
Kwanalu het met die provinsiale forum vir rampbestuur vergader om die besonderhede en ’n plan van aksie te bespreek vir die droogtegeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal.
Meeste dele van KZN is steeds grasgroen, maar volgens me. Sandy la Marque, hoof uitvoerende beampte van Kwanalu, gaan vier van die 11 distrikte in die provinsie gebuk onder die ergste droogte in jare.
“Volgens meteorologiese data is daar twee distrikte wat op die rand is van ’n erge droogte-status. Indien KZN vir volgende drie maande van die reënseisoen nie bykans dubbeld die gemiddelde reënval ontvang nie, sal ál 11 distrikte in groot moeilikheid wees,” sê La Marque.
Volgens mnr. Johan Fourie, ’n boer van Dundee, wat ook die vergadering bygewoon het, is vier distrikte in die provinsie as rampgebiede verklaar, maar dit is slegs gekategoriseer as drinkwater-hulp vir woongebiede.
La Marque is egter tevrede met die proses van die ondersoek om die omvang en die spesifieke vorm van hulp aan boere vas te stel. “Die assessering is voldoende en al die rolspelers van die landbou en die staat werk goed saam en die proses vorder vinnig.
“Die mislukking gebeur wanneer die hulp van die regering aan die boere verskaf moet word. Ons ondersoek alle moontlike geleenthede om boere by te staan sodat hulle nie hul plase verloor nie. As dit beteken dat ons moet beding vir lae-rente-lenings totdat die hulp beskikbaar gemaak is, dan doen ons dit. Maar ná die verwoestende brand in die Kokstad-omgewing verlede jaar, toe daar ná sewe maande steeds geen hulp vir die boere opgedaag het nie, kan ons geen moontlike oplossing ignoreer nie,” sê La Marque.
Die rampbestuur-forum vergader weer op 13 Februarie nadat die evaluasie van die spesifieke behoefte van boere wat deur die droogte geraak is, afgehandel is. “Ons sal van daar besluit wat die beste pad vorentoe is om hulp so spoedig moontlik by boere uit te bring,” verseker La Marque.