Die rand kan oor die volgende 12 maande met tot 6% verswak, luidens ’n opname wat Reuters onder 30 ontleders gedoen het. Luidens ’n berig op Engineering News maak nuwe tekens van verswakking internasionale beleggers skrikkerig vir hoë risiko beleggings.
Die rand het die afgelope 12 maande met 14% versterk. Die versterking word toegeskryf aan hoër buitelandse belegging in plaaslike markte en aan die feit dat beleggers Suid-Afrika hoër rentekoerse vergeleke met ander lande nagejaag het.
R7,175 teen Mei 2012
Volgens ‘n gemiddelde syfer wat vir die opname bepaal is, verwag die mark dat die rand teen Mei 2012 tot R7,175 teen die dollar kan terugsak.
Soos wat die VSA sy pogings om meer geld te druk om sy plaaslike mark te ondersteun tot ’n einde kom, raak beleggers versigtiger om in meer riskante geldeenhede, soos die rand, te belê. Die pogings van die VSA staan bekend as kwantitatiewe verligting.
Me. Anisha Arora, ’n ontleder by 4CAST, voorspel dat die rand tot R7,30 teenoor die dollar gaan verswak. “Ons gaan moontlike ’n moeilike somer beleef met OE2 (kwantitatiewe verligting) wat tot ’n einde gaan kom, sowel as die Europese Unie se skuldprobleme.”
Voordele en nadele vir landbou
Mnr. Dawie Maree, ’n ekonoom vir Agri SA, sê hy stem saam met die voorspelling. Hy meen wel dat ’n wisselkoers van R7,075 (wat vir die einde van die jaar voorspel word) nie baie drasties is nie, as ’n mens in ag neem dat die wisselkoers al R8 en meer teenoor die dollar was.
Wat die swakker wisselkoers betref, sê Maree dit gaan voor- en nadele vir die landboubedryf inhou. Dit sal veral voordelig wees vir uitvoerbedrywe, soos vrugte, ens. Produkte waarvan die prys ’n afgeleide internasionale prys is, soos mielies, sal ook voordeel trek.
“Aan die ander kant word ’n groot persentasie van ons landbouproduksiemiddele (kunsmis, brandstof, onderdele, trekkers, ens) ingevoer en dus sal die verswakking van die rand die produksiekoste verhoog, wat weer druk op boere se winsgewendheid sal plaas,” sê Maree.
Bron: Engineering News
8 Junie 2011