Rassespanning en onverdraagsaamheid in Suid-Afrika is probleme wat aandag moet kry, sê mnr. Doudou Diène, ’n hooggeplaaste beampte van die Verenigde Nasies (VN). Luidens ’n verklaring was dit Diène se reaksie op AfriForum se voorlegging aan die organisasie se menseregteraad oor mnr. Julius Malema, die leier van die ANC Jeugliga, se haatspraak.
Diène, die VN se voormalige Spécial Rapporteur oor hedendaagse vorme van rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en soortgelyke vorme van onverdraagsaamheid.
Mnr. Ernst Roets, die adjunk uitvoerende hoof van die organisasie, het die raad Woensdag, 6 April 2011, in ’n konferensie in Kenia oor hul hofsaak teen Malema en die situasie rondom die sing van die lied, “Skiet die boer”, toegespreek.
Gebrek aan leierskap
Ander afgevaardigdes van die kongres het opgemerk dat hulle ervaar dat ’n gebrek aan politieke leierskap in Suider-Afrika bestaan. ”Daar is spesifiek ook verwys na rassistiese uitlatings deur die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, en die feit dat ander regeringsleiers nie bereid is om hom daaroor voor stok te kry nie,” lui die verklaring.
AfriForum meen dat die hofsaak teen Malema, wat op 11 April 2011 begin, een van die prominentste hofsake sal wees sedert pres. Jacob Zuma se korrupsieverhoor.
Hooggeplaastes
Verskeie hooggeplaastes sal tydens die verhoor as getuies vir Malema en die ANC geroep word. Hulle sluit onder andere mnre. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, en Colin Chabane, Minister in die Presidensie, dr. Wally Serote, ANC-veteraan, mnr. Derek Hanekom, Adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie, en Malema self in.
Roets sal namens AfriForum getuig en dr. Annamarie Gray, senior lektor in musiek, sal as ’n deskundige getuie geroep word. Gray het ’n meestersverhandeling in musiek getiteld “Die rol van vryheidsliedjies tydens die struggle-era” gedoen.
Die TLU SA gaan ook verskeie getuies roep, onder wie ’n kriminoloog van die Universiteit van Pretoria.
7 April 2011