
Só moes die voedselmaatskappy RCL Foods in sy jongste jaarresultate ’n eenmalige waardeafskrywing van R1,5 miljard doen. RCL Foods, vervaardiger van handelsmerke soos Epol, Molatek en Rainbow Chicken, sê dié afskrywing is genoodsaak deur die uitwerking van die pandemie op sy hoenderbedrywighede, asook Suid-Afrika se kredietafgradering.
Die pandemie het almal se perspektief oor die toekoms verander, sê mnr. Rob Field, finansiële hoof van RCL Foods. “Dis regtig moeilik om opgewonde te raak oor die ekonomiese groeivooruitsigte vir die land en vir ons maatskappy. Ons moes baie meer konserwatief raak met die beraming van ons toekomstige groeikoers. Die koste van kapitaal gaan baie duurder raak. Al hierdie risikofaktore het tot die afskrywing van R1,5 miljard gelei.”
Hy verwag Covid-19 en die swak makro-ekonomiese omstandighede gaan nog vir die volgende paar maande ’n ongunstige uitwerking op sy groep se bedrywighede hê. “Net om ons mense veilig en ons bedrywighede aan die gang te hou het ’n regstreekse koste van R267 miljoen tot gevolg gehad.”
Die hoenderafdeling, wat hoendervleis aan kitskosrestaurante soos Chicken Licken, Nando’s en Spur lewer, se inkomste het vir twee maande feitlik opgedroog en dit het nog nie herstel nie, sê Field. “Die sluiting van restaurante en kitskos-eetplekke het feitlik oornag gebeur. Ons het met ’n aansienlike voorraad gesit wat ons toe in die kleinhandel moes probeer verkoop.”
Nieteenstaande die wesenlike impak van die Covid-19-pandemie het die veerkragtigheid van RCL Foods se uiteenlopende bedrywighede daartoe gelei dat die kontant wat hy uit sy bedrywighede gegenereer het, met ’n skaflike 222,7% tot R2,5 miljard op ’n jaargrondslag gestyg het en sy inkomste het oor dieselfde tydperk met 7,4% tot R27,8 miljard toegeneem het. Die groep het ’n totale dividend vir die jaar van 25c per aandeel verklaar.
Een van die opmerklikste ligpunte die afgelope boekjaar was die herstel van sy suikerafdeling se prestasie. “Verlede jaar het die Suid-Afrikaanse suikerbedryf en ons eie suikerafdeling regtig harde bene gekou omdat daar soveel ingevoerde suiker, wat teen onder internasionale markpryse verkoop is, op ons mark gestort is. Dit het van ons plaaslike verkope gesteel. Daar het nou tot ’n mate ’n regstelling gekom en ons het ook koste in die afdeling baie skerp afwaarts bestuur. Dit beteken nie die suikerbedryf is uit die moeilikheid nie, die marges is steeds nie op ’n aanvaarbare vlak nie.”
Die groep se kruideniersware-afdeling, met handelsname soos Bobtail-hondekos, Yum Yum-grondboonbotter en Ouma-beskuit, het volgens Field besonder goed presteer in ’n uiters mededingende mark waar verbruikers se kontant boonop onder groot druk is en die invloed van Covid-19 ook gevoel word. “Ons markaandeel is die hoogste wat dit nog was, en ’n soliede prestasie is gelewer. Daar was veral ’n verhoogde aanvraag na troeteldierkos, beskuit en grondboontjiebotter tydens die inperking.”
RCL Foods besit ook Molatek, wat ’n verskeidenheid lekke en dierevoedingsprodukte verskaf. Field sê dis ’n sterk handelsmerk wat ’n goeie markaandeel geniet en ’n soliede prestasie gelewer in die boekjaar. Maar ook in hierdie sektor is daar probleme. “Vanjaar se oeste lyk beter, wat beteken boere kan hul diere vir langer tydperke op die oesreste laat wei. Ons volumes was vanjaar nie wonderlik nie. Nog ’n probleem is dat die prys van melasse, wat deur die bedryf gereguleer word, nie bevorderlik is vir Molatek se sake nie. Ons marges word negatief geraak.”