
Die maatskappy het pas aangekondig dat hy ’n minderheidsaandeel bekom het in ’n nuutgestigde internasionale maatskappy, Foods United Incorporated (FUN), wat ’n hele aantal beginnerondernemings in die mark vir plantgebaseerde proteïene verteenwoordig.
“FUN is verlede September deur die beheermaatskappy Blue Horizon begin. In Januarie het hy sy eerste ronde kapitaalverkryging gedoen. RCL Food het ’n belang verkry het en sy vennoot in Afrika geword het,” sê mnr. Miles Dally, uitvoerende hoof van RCL Foods.
Dit beteken FUN, wat die intellektule eiendomsreg besit om produkte soos worsies, burgers, nagemaakte maalvleis of nagemaakte schnitzels te vervaardig, en RCL Foods, wat die infrastruktuur het om in Afrika sake te doen, hul kragte saamsnoer om dié alternatiewe produkte op die vasteland te vervaardig en te bemark. Dally sê hulle sal eers op die Suid-Afrikaanse mark konsentreer en daarna die res van Afrika betree. Hy glo daar is ’n goeie mark, selfs in die vleisliefhebbende Afrika, vir dié proteïenryke produkte wat uit plante vervaardig word.
“Dit is goedkoper as rooivleis of hoendervleis, vir die verbruiker én verskaffer. Peulgewasse is ’n eenvoudige produk om te kweek en tot voedsel te verwerk as jy dit vergelyk met die hele verskaffingsketting van byvoorbeeld hoendervleis.”
Hy meen dat die twee proteïenbronne nie met mekaar meeding nie, maar mekaar eerder aanvul. “Soos ons almal weet, moet die toekoms van voedsel nou ’n element van plantgebaseerde proteïene bevat. Dit gaan nie net oor gesondheid nie, maar ook oor die volhoubaarheid van die aarde.”
Blue Horizon, die beherende aandeelhouer in FUN, besit volgens die webwerf vegconomist.com die intellektuele eiendomsreg vir die handelsmerk LikeMeat wat sedert 2013 plantgebaseerde proteïenprodukte aan die kleinhandel en die spyseniersbedryf verkoop.