
RCL Foods, wat bekend is vir produkte soos Rainbow Chicken, Selati, Bobtail, Nola, Yum Yum en Ouma Rusks, het Maandag aangekondig dat sy inkomste in die halfjaar tot Desember 2019 met 7,1% tot R14,2 miljard gestyg het. Sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywing (ebitda) het met 7,7% verbeter tot R1,1 miljoen vergeleke met die vorige ooreenstemmende tydperk. Sy tussentydse wesensverdienste per aandeel het weliswaar met 2,7% gedaal, maar dit word eerder aan verandering in sy boekhouding toegeskryf as ongunstige faktore in die mark. Hy verklaar ’n tussentydse dividend van 15c per aandeel.
Suiker se verdienste styg
Suikerbedrywighede begin nou ná ’n aantal rampspoedige jare tekens van herstel toon, sê mnr. Miles Dally, uitvoerende hoof van RCL Foods. In dié afdeling het die onderliggende ebitda meer as verdubbel tot R306,5 miljoen. “Ons suikerbedrywighede het baat gevind by hoër uitvoervolumes, ’n plaaslike prysverhoging en die internasionale prys wat ook opwaarts beweeg en ons verligting gebied het van goedkoop ingevoerde suiker.”
Hy sê die suikerbelasting het gekom om te bly. Dit het van 300 000 ton tot 400 000 ton suiker uit die plaaslike verbruik geneem. “Die gaskoeldrankvervaardigers het eenvoudig hul formules aangepas en gebruik nou minder suiker.”
Hy het sy steun uitgespreek vir die ontwikkeling van ‘n suikermeesterplan soortgelyk aan die een wat onlangs vir die plaaslike braaihoenderbedryf goedgekeur is, en plaaslike werksgeleenthede kan beskerm.
Troeteldierkos laat kruideniersafdeling blaf
In 2017 het RCL ’n aanleg vir troeteldierkos ter waarde van R150 miljoen in Randfontein geopen. Dit is een van die grootste aanlegte in sy soort in Afrika en is daarop gemik om RCL se Suid-Afrikaanse aandeel in die kleinhandel van troeteldierkos van 40% tot 60% te laat groei.
Dié belegging begin nou vrugte afwerp en die groep se markaandeel het met 15% uitgebrei, sê Dally.
“Al ons produkte van Bobtail tot Canine Cuisine; Feline Cuisine en die nuwe produk, Optimizor, het besonder goed presteer.”
Die kruideniersafdeling se onderliggende ebitda het in die oorsigtydperk met 6% tot R321 miljoen gestyg.
Virus nog nie risiko
Dally sê hulle is nog nie bekommerd oor die onmiddellike impak van die Covid19-virus op RCL Foods se bedrywighede nie. Die maatskappy doen tans ’n risiko-ontleding hieroor en Dally sê omdat die maatskappy nie uitvoer nie, is die risiko beperk.
“Wat invoer betref, is ons grootste invoerproduk sojabone, wat ons hoofsaaklik van Suid-Amerika af kry. Daar behoort ons nie te sukkel nie. Die grootste risiko is die algemene verlangsaming in wêreldhandel wat deur die virus veroorsaak word en wat Suid-Afrika se ekonomie ook kan beïnvloed. Die tweede moontlike risiko is natuurlik die verspreiding van die virus na Suid-Afrika, wat plaaslike verbruikers ongunstig sal raak.”
Hoendermark steeds oorspoel deur invoer
RCL Foods se hoenderbedrywighede word steeds nadelig geraak deur goedkoop ingevoerde hoendervleis. In dié afdeling het sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywing (ebitda) met 10,8% tot R198,1 miljoen gedaal.
Dally sê dit frustreer hom dat die regering sloer om die goedgekeurde meesterplan vir die braaihoenderbedryf in werking te stel. Die nuwe meesterplan wil plaaslike produksie uitbrei en verbeter, en uitvoer verhoog. Terselfdertyd wil dit invoer beperk en seker maak daar word streng teen storting opgetree.
“Elke week kyk ons die Staatskoerant gretig deur, maar dit is nog nie afgekondig nie. Na wat ons verneem, lê die plan iewers op iemand in die department van handel en nywerheid se lessenaar en wag op ’n handtekening.”
Gunstige tekens
Dally sê hy is baie bemoedig deur mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, se onlangse begrotingstoespraak wat daarop gemik was om die ekonomie te laat groei.
“Hy besef dis nodig om werk te skep en om dít reg te kry moet hy die die regte omgewing skep wat gunstig is vir groei. Dis bemoedigend dat hy nie belastingkoerse verhoog het nie. As die ekonomie groei, sal die regering meer belasting insamel.”