Die volstruisbedryf kan binne nege maande op die krytvloer lê as suksesvolle planne nie beraam kan word om dit te red nie, sê mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse landbouminister.
Dié geknelde bedryf staan voor ‘n geweldige uitdaging en samesprekinge is reeds met die nasionale Minister van Landbou gehou om oplossings vir dié krisis te vind.
Van Rensburg het op ‘n geselligheid van die Agri Mega-groep in die Paarl gesê volstruisboere verkoop tans voëls teen ‘n verlies van R1000 stuk. “Verlede jaar is 250 000 volstruise in Suid-Afrika geslag en net die helfte van dié getal sal vanjaar geslag word.”
Sosio-ekonomiese gevolge
Teen dié trant sal net 40 000 volstruise in die volgende jaar geslag word, het Van Rensburg gesê. Watter nagevolge sal dit vir Oudtshoorn en die volstruisbedryf inhou? Hy is bekommerd oor die sosio-ekonomiese gevolge wat die insinking in die volstruisbedryf op die gemeenskap van Oudtshoorn kan hê.
Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf durf nie sy “rakspasie” in die wêreld verloor nie, en daarom moet alles in die stryd gewerp word om die bedryf te red, het hy gesê. Dis om dié rede dat hy met me. Tina Joemat-Petersson, Minister van Landbou, vergader het om oplossings vir dié krisis te vind.
Van Rensburg het verwys na individuele vrugteboere wat by Europgap geakkrediteer is, en wat hul produkte daarvolgens kan uitvoer. Volstruisboere wat daarvoor kwalifiseer, moet toegelaat word om op soortgelyke wyse hul produkte uit te kan voer,” het hy gesê.
20 Maart 2012