
Mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, het in Julie ’n ekonomiese herstelpakket aangekondig wat deur die regering aangewend sal word vir ekonomiese herstel en om verligting te bied ná die gewelddadige onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, asook die voortslepende covid-19-pandemie.
Produsente en pakhuise kan vir belastingvoordele in aanmerking kom as die nodige stawende dokumente in oorleg met hul finansiëlediensverskaffers ingedien word, sê die vrugteprodusente-organisasie, Hortgro.
Die oogmerk met die wetsontwerpe is om die belastingraamwerk te wysig wat vroeër vanjaar tydens die begrotingsrede in Februarie uiteengesit is, sê Hortgro.
Die wysigings sluit in dat die geskiktheidskriteria vir diensbelasting vir die komende vier maande gewysig sal word. Die wysigings sal vir vier maande, vanaf 1 Augustus tot 30 November, geld.
Van die tydelike veranderinge sluit in:
- ’n Toename van R1 000 tot R1 750 in die bedrag wat geëis kan word vir sekere werknemers in die eerste 12 maande van indiensneming.
- ’n Maandelikse eis van R750 sal oor die volgende vier maande toegelaat word vir sekere werknemers (18-29) in die eerste 12 maande van die indiensneming.
- ’n Maandelikse eis van R750 vir werknemers tussen die ouderdomme van 30 en 64 oor die volgende vier maande.
- ’n Beperkte eis vir diegene wat weens die inperkings of onrus vir nie meer as 160 uur van die maand kon werk nie.
Om vir die voordele in aanmerking te kom, sal elke besigheid volgens Hortgro self verantwoordelik wees om die nodige bewyse voor te lê oor die impak wat die pandemie op die besigheid gehad het.
“Die belastingvoordele wat verleng word, is deel van die Ramphulpwet en is van toepassing op enige besigheid wat beperk was en/of bykomende koste aangegaan het tydens die inperking.”
Die diensbelasting, wat besighede in staat stel om mense te behou, was voorheen slegs van toepassing op jong mense in die ouderdomsgroep van 18 tot 29 jaar, maar volgens die voorgestelde wysigings sal dit nou van toepassing wees vir werknemers tot 65 jaar.
Die diensbelasting is gemik op mense wie se werksure weens die covid-19-pandemie verminder is en wat minder as 160 ure per maand gewerk het. Daar kon voorheen slegs twee keer ’n jaar aansoek gedoen word en die tydperk is nou verleng vir die vier maande wat strek van 1 Augustus tot 30 November.
Die uitstel van die betaling van lopende inkomstebelasting vir klein en mediumgroot besighede (met ’n omset van minder as R100 miljoen) is nou moontlik sonder boetes en gelyke paaiemente kan oor die volgende ses maande aan die SA Inkomstediens gemaak word vir die tydperk van Augustus tot Oktober met ’n maksimum van 35% van werknemersbelasting, sê Hortgro. Dit is egter net ’n kontantvloeivoordeel op kort termyn en nie ’n besparing op inkomstebelasting nie.
Klik op die skakel https://bit.ly/3rVeLqs vir nog inligting oor die wysigings.