
Goeie reën het die afgelope paar dae in groot dele van die droogtegeteisterde westelike dele van die land die geval.
Volgens mnr. Naudé Pienaar, adjunk uitvoerende hoof van Agri Noordwes, het dit op die meeste plekke in hierdie provinsie goed gereën.
Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê in die omgewing van Vryburg, Lichtenburg, Mahikeng en Schweizer-Reneke is reënval van 100 mm tot 200 mm gemeet.
By Delareyville is selfs meer as 200 mm gemeet. Boere het aan hom gesê dit was sagte, doeltreffende reën. “Die grond gaan ordentlik nat word.”
Tot 200 mm aangeteken
Nóg gebiede waar dit goed gereën het, is Wesselsbron, Welkom, Bothaville, Potchefstroom, Reitz, Ventersburg, Heilbron en Frankfort, waar van 30 mm tot 100 mm in die laaste week geval het. In die Lindley-Arlington-omgewing is meer as 200 mm aangeteken.
Volgens RMD Finansiële Dienste se reënvalverslag het 180 mm van 31 Januarie tot 2 Februarie by Senekal geval, 90 mm by Bothaville, 100 mm by Welkom en 80 mm by Frankfort.
Van den Berg sê in dele van die Suid- en Suidwes-Vrystaat en die Noord-Kaap het verligting egter nog nie gekom nie.
Nog droog
In die omgewings van Jan Kempdorp, Christiana, Bloemhof, Bloemfontein, Petrusburg, Hertzogville is dele waar min of selfs geen reën in Januarie geval het.
Pienaar sê by Bloemhof en Christiana is so min as 15 mm nou aangeteken en by Jakkalskop minder as 20 mm. Wes van Vorstershoop is dit ook nog baie droog en het skaars 4 mm geval.
Askam het 70 mm reën gekry, maar 30 km verder het nog geen reën geval nie, sê Van den Berg.
Volgens mnr. Johan van Rensburg, hoof uitvoerende beampte van Agri Noord-Kaap, dui voorlopige inligting daarop dat daar goeie reën was in dele van die Kalahari en onder meer by Olifantshoek en Kuruman.