
Goeie reën die afgelope tyd in die mielieproduserende gebiede het die oesvooruitsigte aansienlik verbeter, sê mnr. Wessel Lemmer, 'n senior ekonoom van Graan SA.
Hy het by ’n streekvergadering van die organisasie by Delmas gesê suid van Bothaville en tot in Lichtenburg lyk die mielies goed. Verder wes is dit nog baie klein, maar op die oostelike Hoëveld lyk dit ook belowend. “Die oesverwagtinge het beslis verbeter ná die reën die afgelope tyd.”
Hy het in ’n vraag-en-aanbod-voorlegging gesê Suid-Afrika gaan teen die einde van die bemarkingsjaar in April net genoeg mielies vir 25 dae beskikbaar hê en dit is die minste nóg sedert daar rekord daarvan gehou word.
Lemmer sê die totale eindvoorraad van mielies sal sowat 627 000 ton wees terwyl die land 764 000 ton per maand nodig het. Hy sê die wisselkoers wat oor ’n maandtydperk met meer as ’n rand verswak het, het mieliepryse goed ondersteun in ’n tydperk waar ook baie lae internasionale vry-aan-boord-pryse gegeld het. Die Suid-Afrikaanse mark het nie daardie laer pryse nagevolg nie. Die feit dat pryse in Suid-Afrika sywaarts (en aan die einde van die bemarkingsjaar ook opwaarts) beweeg het, kan verder toegeskryf word aan die knap voorraadvlakke.
Wat wit mielies betref, is die totale aanbod vir die bemarkingsjaar net meer as 6 miljoen ton en die Suid-Afrikaanse verbruik is 4,8 miljoen ton. Die uitvoere is sowat 865 000 ton – die meeste na Mexiko en Zimbabwe. Mexiko het sowat 190 000 ton wit mielies ingevoer en 160 000 ton is na Zimbabwe uitgevoer.
Die uitvoere veroorsaak dat daar ’n eindvooraad van slegs 280 000 ton sal wees. Dit is meer as die helfte minder as die 757 000 ton van die vorige seisoen.
Binnelandse verbruik
Die maandelikse binnelandse verbruik is 404 000 ton. Dus beteken dit dat daar aan die einde van die seisoen in Mei net 21 dae se oordragvooraad beskikbaar sal wees. “Dit is die laagste sedert daar in 1997 hiervan rekord gehou word en heelwat meer is nodig om ons na die nuwe seisoen toe te neem.”
Daar word nou 150 000 ton mielies van die Oekraïne af ingevoer.
Wat geel mielies betref, is die totale aanbod 6,4 miljoen ton en die verbruik 4,8 miljoen ton. Die uitvoere word bereken op 1,1 miljoen ton, waarvan meeste na Japan (596 000 ton) en Taiwan (168 000 ton) gaan. Lemmer sê dit laat Suid-Afrika met ’n eindvoorraad van 347 000 ton wat ook bykans die helfte minder as die vorige seisoen is en die laagste nóg sedert 1997. Daar is net oordragvoorraad vir dertig dae.