
Someraanplantings is meestal voltooi in Mpumalanga, maar in baie gevalle is laat geplant en word reën nou benodig om droogteskade aan gesaaides te voorkom.
“ ’n Groot deel van die Oos-Vrystaat het nie reën gehad om betyds te kan plant nie. Na raming is minder as 50% van aanplantings in dié streek binne die aanvaarbare planttyd gedoen,” sê Van den Berg in sy jongste weerverslag.
“Die laaste aanvaarbare opkomsdatum vir mielies in hierdie gebiede is teen die eerste week van Desember om te verseker dat genoeg hitte-eenhede beskikbaar is vir die res van die groeityd.”
In die sentrale en westelike dele van die somergraanproduksiegebiede kon baie min aanplantings nog gedoen word. In dele by Koppies, Parys, Potchefstroom en Ventersdorp het genoeg reën wel voorgekom om te kon plant. Volgens Van den Berg is daar gebiede wat nog nie genoeg reën ontvang het om grondvoorbereiding te doen nie, wat baie druk gaan veroorsaak om betyds te plant wanneer dit gereën het.
“In sommige gebiede is daar taamlike hoeveelhede water in die dieper grondlae, maar die boonste deel van die grondprofiel is droog. Minstens 50 mm tot 100 mm is in die sentrale en westelike produksiegebiede nodig om te kan plant, terwyl die oostelike dele heelwat reën benodig om droogteskade te voorkom,” sê Van den Berg.
Reënval
Reënval word van 7-10 Desember, asook in die laaste twee weke van die maand vir die grootste deel van die somerreëngebied voorspel. “Dit lyk of die beste kanse op reën in die droogtegeteisterde noordelike tot noordoostelike dele van die land is, wat insluit Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.”
Volgens Van den Berg is goeie neerslae ook moontlik oor die Vrystaat, Noordwes, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. “Minder reën word steeds oor die droogtegeteisterde dele van die sentrale tot westelike Noord-Kaap en Noordwes verwag, maar dit lyk of toestande ietwat verbeter teen die tweede helfte van Desember.”
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het 'n waarskuwing uitgereik vir swaar reën en moontlike oorstromings oor die sentrale en oostelike dele van die land Saterdag en Sondag.
Heavy rain expected for parts of South Africa | 08 and 09 December 2018 pic.twitter.com/BE90xiXhnN
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) December 6, 2018
Wat reënvaltoestande in Namibië betref, kan beter reënval in die tweede deel van Desember voorkom, hoewel dit ’n hoërisikojaar vir die tweede deel van die somer bly.
Drie moontlike scenario’s
Van den Berg voorspel die volgende drie scenario’s vir die res van die somer:
Scenario 1. Die kans dat swakker as verwagte reënval in Desember en Januarie, asook van Februarie tot April kan voorkom, staan tans op 30%. Die droë toestande wat in die laaste deel van die somerseisoen voorspel word, is die gevolg van die verwagte El Niño-weerstelsel.
Scenario 2. Die kans dat goeie reënval in Desember en Januarie kan voorkom, gevolg deur baie droë toestande in die laaste deel van die seisoen weens die voorspelde El Niño-weerstelsel, is 50%.
Scenario 3. Die kans dat die El Niño-weerstelsel se reaksie nie tipies is nie en met goeie reënval deur die res van die seisoen gepaardgaan, staan tans op 20%.
“Hierdie scenarios kan minder of meer relevant wees as dit geografies toegepas word, met die westelike dele van die land waar ’n beter kans op scenario 1 bestaan, terwyl ’n beter kans op scenario 3 in die oostelike dele bestaan,” aldus Van den Berg.
El Niño
Wat die ontwikkeling van die verwagte El Niño-weerstelsel betref, sê Van den Berg see-oppervlaktemperature in die Niño-gebiede handhaaf sedert Oktober vanjaar reeds temperature wat 0,5°C warmer is as normaal. “Daar is egter steeds geen of baie min koppeling met die atmosfeer as daar na die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI) as indikator gekyk word.”
Volgens hom is SOI se 30 dae- gemiddelde waarde steeds in ’n neutrale fase, wat selfs nog effens na die La Niña-kant leun. “Daar is egter ook ander faktore wat belangrik kan wees, soos wanneer die hoogtepunt van die stelsel bereik word en of die tydperk van warmer as gemiddelde see-oppervlaktemperature lank genoeg gaan wees om as ’n El Niño-stelsel geklassifiseer te kan word.”
Intussen het die Indiese Oseaan-dipoolindeks (IOD) weer begin terugbeweeg vanaf die positiewe fase na die neutrale fase, wat minder nadelig is vir reënvaltoestande in Suider-Afrika. “Dit kan help om die uitwerking van El Niño te versag,” sê Van den Berg.
Wat reënval in die komende maande in die winterreënstreek betref is ligte neerslae steeds moontlik met koue fronte wat die suidelike dele van die land sal raak.