
Hoewel die meeste wintergewasse reeds in die Wes-Kaap gestroop is, is boere baie dankbaar vir die sowat 20 mm tot 40 mm reën oor onder meer Swellendam, George en Robertson. “Die reën sal watervlakke verbeter vir die somer wat voorlê, en is ook baie welkom vir weiding wat weens droogtetoestande onder druk is,” sê mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA.
Me. Zelda Dunn sê hulle is baie opgewonde oor die 22 mm wat hulle op hul plaas Fairview in die distrik Swellendam ontvang het. Haar twee seuns, Cobus (5) en Juan (4), het dit baie geniet om in die modderplasse op die plaas te baljaar.
Tornado
Die swaarste neerslae het gister in KwaZulu-Natal voorgekom. Talle gebiede het oorstromings ervaar. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê luidens ’n verklaring dat ’n erge donderstrom ’n tornado in die distrik van New Hanover in KwaZulu-Natal veroorsaak het. Twee mense is volgens mediaberigte in die storm dood. Die storm en die tornado het groot skade aan eiendom aangerig. Die weerkantoor sal ná verdere ondersoek kan bepaal wat die sterkte van die tornado was.
Dr. Amelia Genis, een van Landbouweekblad se senior verslaggewers, sê reën het ook oor Oudtshoorn uitgesak.
Watervalletjie in die Robinsonpas tussen Oudtshoorn en Mosselbaai #reënweerismooiweer @landbou #landbou pic.twitter.com/9xTB65Rc0q
— Amelia Genis (@AmeliaGenis) November 13, 2019
Verskeie lesers van Landbouweekblad het op ons Facebookblad berigte geplaas dat hulle reën ontvang het, terwyl ander nog niks gemeet het nie.
Eers ’n inkomste teen 2021
Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê die emosionele skade wat die droogtetoestande en laat reën van die afgelope paar seisoene onder boere veroorsaak het, kan veral nou gesien word terwyl sommige boere gespanne wag op reën. Hy sê talle boere in dele van Mpumalanga het al tot 50 mm gemeet, terwyl ander die lug dophou vir moontlike neerslae in die sentrale dele van die Vrystaat en Noordwes. Boere in die Noord-Kaap, wat in die greep van erge droogtetoestande is, wag ook op goeie reën.
Wat koringoeste in veral die westelike dele van die Vrystaat betref, is talle boere moedeloos. “Die boere het begin stroop. Begin September was die potensiële opbrengste sowat 3 t/ha, maar opbrengste van 1,3 t/ha tot 1,6 t/ha word by ons depots aangemeld.”
Die swak koringoeste is nie al waaroor boere in die westelike dele van die Vrystaat bekommerd is nie. Baie van hulle het ná goeie reën oor Paasnaweek besluit om koring te plant op van hul hoëpotensiaallande nadat hulle nie in die somer kon plant nie. “Baie van daardie boere sal nie somergewasse kan aanplant nie. Hulle eers in die 2020-’21-somerseisoen weer somergewasse kan plant. Dit beteken hulle sal eers teen Julie 2021, wanneer hulle daardie somergewasse stroop, weer ’n behoorlike inkomste kan sien,” sê Rossouw.
Nog reën
Die weerdiens maan dat die risiko vir nog ernstige weertoestande oor die oostelike gedeeltes van die land vir die volgende drie dae moontlik is. Sterk wind, hael en swaar neerslae kan deel vorm van dié stormagtige weer.
Veral KwaZulu-Natal sal beïnvloed word deur die uitermatige toestande. Die swaar reën wat reeds voorgekom het, verhoog die risiko vir oorstromings in plekke.
Mnr. Johan van den Berg, weerkundige by Santam Landbou, sê weermodelle dui aan dat die kans op reën in die laaste tien dae van November oor onder meer die sentrale en westelike dele van die land verbeter. “Wanneer dit in die oostelike dele begin reën, begin die reën in die verloop van die seisoen stelselmatig na die westelike dele uitbrei.”