Boere beraam die skade wat hulle gely het weens oorstromings, wat tans in die Noord-Kaap voorkom, op sowat R88 miljoen.
Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê intussen wag boere steeds op sowat R100 miljoen se ramphulp wat na verlede jaar se oorstromings toegestaan is.
“Die berekeninge vir die geskatte skade is gedoen na aanleiding van boere se ondervindings na verlede jaar se oorstromings,” vertel Van Rensburg. Hy sê dit sluit skade in aan gewasse in landerye wat oorstroom is, skade aan kragpunte, waterpompe en besproeiingstelsels aook verlies aan inkomste.
Oeste?
Volgens Van Rensburg is boere wat langs die Oranjerivier boer, tot by veral Upington, tans onseker oor wat gaan gebeur as die rivier hoër opstoot, aangesien dit baie lanklaas oorstroom het en hulle net keerwalle het om hul landerye teen die water te beskerm. “Slegs dié boere met tafeldruiwe se oeste was al van die lande af voordat die water toegeslaan het.”
Boere langs die Vaalrivier is veral bekommerd omdat hulle nie tans hul landerye kan besproei nie, want hulle moes hul pompe uit die rivier onttrek om groot skade te voorkom. “Reën is binne die volgende week nodig - veral vir die mielies en katoen wat nou in ‘n ontwikkelingstadium is,” sê Van Rensburg.
Hy sê as riviere se vlakke op die huidige vlakke bly, sal boere eers oor twee weke weer hul pompe in die water kan sit en met hulle werksaamhede kan voortgaan.
Minister besoek Douglas
Intussen het me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, Maandag (10 Januarie), Douglas besoek om haarself van die skade te vergewis en boere toe te spreek. Die Vaal- en Oranjerivier vloei net buite die dorp saam en inwoners vrees sedert verlede week dat hulle hul huise sal moet ontruim.
Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder vir Molewa, sê die minister het die verskeie voorstelle en probleme wat die boere aan haar uitgewys het ter harte geneem en gesê daar sal ondersoek ingestel word oor hoekom verlede jaar se ramphulp gelde nog nie uitbetaal is nie.
Die voorstelle
Van Rensburg sê hulle het spesiefiek vier voorstelle aan die minister voorgelê:
1. Die organisasie versoek dat strategieë rondom die loslating van water van oorvol damme nagegaan en aangepas moet word. Sou voorspellings van groot reëns gemaak word wat die damme sal raak, moet die damme se vlakke voortydig laat sak word om massas water te voorkom.
2. Meer doeltreffende meetstasies moet in die riviere aangebring word. Van Rensburg sê tans is daar net drie meetstasies in die Oranjerivier tussen Douglas en Upington, en ten minste ses word benodig.
3. Projeksies van die in- en uitvloei van water van damme moet verfyn word.
4. ‘n Algemene rampstrategie en –hulpplan, wat daadwerklik toegepas word, moet daargestel word vir enige ramp.
In- en uitvloei van damme
Die in- en uitvloeivlakke van die damme wat die riviere beïnvloed is vandag (11 Januarie) steeds baie hoog.
Die Vaaldam is 101% vol en die uitvloei uit die dam is sowat 1 350 kubieke meter water per sekonde. Die Bloemhofdam is 98% vol met ‘n uitvloei van 2 800 kubieke meter per sekonde.
Die Vanderkloofdam is 113% vol met ‘n uitvloei van 2430 kubieke meter per sekonde. By die Gariepdam vloei sowat 2 300 kubieke meter water per sekonde uit en die dam is 117% vol. Van Rensburg sê die meting by Douglas se stu-wal is 2 237 kubieke meter per sekonde.
Kyk na 'n fotogalery van die water by Douglas.
11 Januarie 2011