
Meer as ooit in die afgelope 20 jaar is daar erkenning van die regering se kant af dat die landbou ’n grootskaalse Suid-Afrikaanse bate is, sê dr. John Purchase, voormalige uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz.
Purchase, wat saam met ander kenners op die kunsmisvereniging van Suider-Afrika (Fertasa) se jaarkongres gepraat het oor lesse wat uit die covid-19-pandemie geleer is, het gesê daar word nou besef dat die landbou ’n deurslaggewende bydraer tot voedselsekerheid, ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika is.
“As net na die aantal vermeldings van die landbou en landboubesighede in die president se staatsrede gekyk word, is dit duidelik dat die landbou boaan die regering se agenda is. Maar ons leef in uiters onsekere tye met talle veranderlikes en risiko’s. Sommige kan beheer word en ander nie. Die oorlog in Oekraïne en die kwaai spanning wat dit wêreldwyd veroorsaak, getuig van hierdie onsekere tye.”
Hy het gesê die indeks oor beleidsonsekerheid van die Noordwes-Universiteit se sakeskool is op sy hoogste vlak ooit. Kenners meen die konflik in Oekraïne kan nog ’n paar jaar voortduur en dit skep groot onsekerheid oor wat met voedselpryse en bedrywe soos die kunsmisbedryf in die komende maande gaan gebeur.
Hy het gesê die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking, waarby hyself betrokke is, is ’n poging om groter sekerheid te bring vir alle belanghebbendes in die sektor en om ’n gemeenskaplike visie en gesamentlike doelwit vir inklusiewe groei te skep. Die teikens met die plan is om die landbou se waarde met R32 miljard te laat toeneem, gewasproduksie met 410 000 ha uit te brei, diereprodukte met 611 000 ton te laat toeneem en in die proses sowat 72 000 nuwe werksgeleenthede te skep en plek te maak vir 6 500 nuwe klein en mediumgrootte ondernemings.
Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika se landbou in bruto waarde met 44% sedert 2010 toegeneem het en in dieselfde tydperk het produksievolumes met 19% gegroei. Die grootste kwellings is trae ekonomiese groei, mededingendheid wat afneem, en staatskuld wat toeneem.
Weens die verwagte lae ekonomiese groei van onder 2% oor die volgende drie jaar sal dit tot 2025 duur om die 1,4 miljoen werksgeleenthede wat weens die covid-19-pandemie verlore gegaan het, te herwin. Terselfdertyd gaan 20c in elke rand van die staat se inkomste om skuld te diens.
Totale waardeketting belangrik
Mnr. Theo Boshoff, sy opvolger by Agbiz, het op die kongres gesê van die lesse wat onder meer in die covid-19-tyd geleer is, is dat die hele waardeketting belangrik is. As die ketting op een plek breek, is die hele ketting ontwrig. Dit gaan nie net oor produksie nie, maar ook hoe die kos verbruikers bereik, opberging, sertifisering en inspeksiedienste.
“ ’n Fundamentele fout wat aanvanklik gemaak is, was ’n verbod op alles behalwe dit wat as noodsaaklike dienste beskou is. Ek meen ’n les wat hieruit geleer is, is dat net dit wat duidelik noodsaaklik is om gereguleer te word, wel gereguleer word. Die res moet gelos word, want dit is baie moeilik om onbedoelde gevolge vooraf te bepaal.”
Hy het gesê die belangrikheid van informele markte is ook besef, asook die belangrikheid van vennootskappe tussen staatsinstellings en die private sektor.
Derde duurste kunsmis ter wêreld
Dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, het verwys na die kommerwekkende feit dat Suid-Afrika die derde duurste land ten opsigte van die koste van kunsmis is. “Ek weet daar is probleme met logistiek en infrastruktuur, maar dit is ’n groot probleem vir ons volhoubaarheid en winsgewendheid. Ons moet kyk hoe ons hierdie situasie kan omkeer.”
Van 25% tot 50% van ’n graanboer se koste is vir kunsmis en 80% van die kunsmis word ingevoer. “Ons sit met ’n groot hulpbron in Foskor. Is daar geen manier waarop ons dit doeltreffend aan die gang kan kry sodat hierdie nasionale bate beter benut kan word nie?”
Hy het beklemtoon dat hoewel kunsmis ’n graanboer se grootste veranderlike koste is, is dit terselfdertyd die beste belegging wat hy kan maak om sy inkomste te verhoog. Daar moet onderling tussen verskaffers, boere en navorsers saamgewerk word om doeltreffender benutting daarvan te verseker.
Mnr. Theo Venter, onafhanklike politieke ontleder, het gesê sy verwagting is dat covid-19 en die oorlog in Oekraïne twee groot krisisse is wat in die een of ander vorm nog vir ’n jaar met die wêreld gaan wees en dit moet in boere se beplanning in ag geneem word. Plaaslik gaan die regering se aandag op die ANC-konferensie in Desember, waar die topses verkies moet word, en die algemene verkiesing in Mei 2024 toegespits wees.
Hy het gesê een van die gevolge van die konflik in Oekraïne is dat Suid-Afrikaanse graanboere in die volgende plantseisoen waarskynlik meer sonneblom en koring gaan aanplant.