Landboubeleid moet herdink word om as ’n wortel, pleks van ’n stok gebruik te word, het mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa AgriBesigheid, op ’n media-ontbyt in Johannesburg gesê.
Volgens hom vernietig beleid dit wat mense in die landbou wil bereik. “Omdat dit egter vir die Regering ’n politieke verleentheid sal wees om te erken hy is verkeerd, sal dit nie maklik verander nie,” het hy gesê.
Hy sê in Suid-Afrika is daar soveel onrus in die landbou-omgewing dat dit belegging in die wiele ry. “Boere belê eerder elders as in boerdery. Daar word verwag dat kommersiële boere se getalle tot 14 000 kan daal en volgens sommige voorspellings tot so laag as 7 000.
“As die Regering ’n omgewing skep waarin die landbou kan floreer, sal boere produseer.”
Samewerking
Janovsky sê die enigste manier om beleid te verander, is met samewerking. Die Regering ignoreer landbou-organisasies egter omdat hy meen hulle is anti-regering.
“In ’n mate het die georganiseerde landbou homself in dié hoek gekry waar die Regering nie na hom wil luister nie. Ons moet egter sorg dat ons die regte beleid het om die landbou optimaal te laat funksioneer, anders gaan ons dit nie maak nie,” sê hy.
Hindernisse, soos oorregulering, wat belegging skaad, moet uit die weg geruim word, markte moet geskep en uitgebou word en landbouvriendelike beleid vir toegang tot arbeid, water, grond en kapitaal moet ingestel word.
Die instandhouding van grense en rooilyn-gebiede is net so belangrik, so ook die goedkeuring van nuwe molekules en beter steun aan die veeartsenydiens.
1 November 2011