
“Die ANC se hernude aanslag op die politieke stabiliteit en ekonomiese vooruitgang van die land met sy ‘radikale ekonomiese transformasie’ en ‘daadwerklike grondhervorming’ sal Suid-Afrika op sy knieë dwing as gevolg van ongekende ekonomiese agteruitgang, hongersnood en baie groter armoede,” sê mnr. Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.
Hy sê die Regering se beleid van “radikale ekonomiese transformasie” is niks anders nie as ‘n beleid van “ons wil alles hê om te verdeel om sodoende ons regeringsbewind ten alle koste te beskerm en te verleng tot die ekslusiewe voordeel van die ANC-elite.”
Die herhaalde bedreiging van die herverdeling van grond was geensins onverwags nie en bly steeds die laaste grashalmpie waaraan die ANC vasklou om aan bewind te probeer bly ná 2019. Dit is ook 'n baie kenmerkend stap wat baie leiers in Afrika gebruik het om hulle diktatorskap te vestig.
Vernietigende beleid
Brink sê die ANC-regering se bankrotskap sal met sy voortgesette onbekostigbare en vernietigende beleid veroorsaak dat daar in elk geval nooit geld beskikbaar sal wees om kommersiële boere vir hulle grond te vergoed nie. Geen wet sal ook ooit geld vir die doel beskikbaar kan maak nie en die verdere herverdeling van grond sal gevolglik bloot op 'n grondgryp-aksie neerkom, selfs binne die voorskrifte van die Grondwet. As ‘n boer nie die Regering se prys vir sy plaas wil aanvaar nie, selfs nadat die regsproses deurloop is, kan die staat steeds met die onteiening van sy plaas voortgaan teen die prys wat hy wil betaal.
Die tyd het nou aangebreek dat die georganiseerde kommersiële landbou 'n streep in die sand moet trek om daardeur die Regering te waarsku teen die uiters nadelige politieke onstabiliteit en ekonomiese agteruitgang wat sy grondverdeling vir die land sal in hou. Die vernietiging van die land se produksiepotensiaal sal van Suid-Afrika 'n permanente voedselinvoerland maak wat uiteindelik van voedselhulp deur die buiteland afhanklik sal raak.
Kan dit nie ondersteun nie
Brink meen die kommersiële landbou kan nie voortgaan om die regering se ontwikkelingsprogram vir kleinboere te ondersteun nie, net om uiteindelik gedwing te word om hul plase aan hierdie boere af te staan nie. Hulle het nou die laaste kans om weg te stap van die Regering se vergrype en vernietigingswerk wat, soos die Regering verlede jaar bewys het, hulle presies niks in die sak sal bring nie.
“Die georganiseerde landbou sal nou dringend 'n kopskuif moet maak om nie langer as deel van die probleem nie, maar eerder as deel van die daadwerklike verset en optrede teen die aanslag van die Regering deur die kommersiële boere beskou te word.”