
Die Regering gaan nie weens Brexit kant kies tussen Brittanje en die Europese Unie (EU) as handelsvennote nie, het die Parlement se portefeuljekomitee vir internasionale betrekkinge en samewerking benadruk.
Die Regering het sedert Brittanje se besluit om die EU te verlaat, aangedui dat hy na verskeie opsies kyk om te verseker dat handelsooreenkomste met Brittanje nie skade ly weens hierdie skuif nie. Brittanje is nes die EU een van Suid-Afrika se sterkste handelsvennote en die land het tussen 2013 en 2015 landbouprodukte van gemiddeld R7,4 miljard na Brittanje uitgevoer. Dit maak 25% uit van die totale landbouprodukte wat na die EU uitgevoer word.
Mnr. Bhekisizwe Radebe, waarnemende voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê dat Suid-Afrika nie kant gaan kies nie, maar het aangedui dat die komitee die besluit van Britse landsburgers respekteer om die EU te verlaat. Hy het benadruk dat dit belangrik is dat daar met Brittanje en die EU as gelyke vennote beraadslag moet word.
Die komitee het aanbeveel dat die Regering so gou as moontlik met die Britse regering vergader om te verseker dat sy vennootskap met dié land nie negatief deur Brexit geraak word nie.
Ooreenkoms
Vroeër vanjaar het die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) ’n ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EPA) met die EU gesluit wat die ou Handel-, Ontwikkeling en Samewerkingsooreenkoms (TDCA) vervang wat in 2000 geteken was.
Onder die ooreenkoms het suiker, etanol en 110 miljoen liter wyn toegang tot die EU gekry. Omdat Suid-Afrika, as deel van Sadu,’n vryehandelsooreenkoms met die Europese vryehandelvereniging (EFTA) het, bied hierdie ’n geleentheid vir Brittanje om steeds met Suid-Afrika te doen.
Hy sal egter by EFTA, wat ’n vryehandelsooreenkoms met die EU het en wat deel vorm van die Europese Ekonomiese Area (EEA), moet aansluit. ’n Ander opsie is dat Brittanje en Sadu ’n billaterale vryehandelsooreenkoms onderhandel wat moontlik op die EPA gebasseer is.
Blootgestel
Die top 10 landbouprodukte wat na Brittanje uitgevoer word, maak R5,4 miljard of 73% uit van die totale landbouprodukte wat daarheen uitgevoer word. Dit is druiwe, appels, naartjies, lemoene, avokado’s, perskes, pere, pruime en gebottelde en grootmaat wyn gemaak van druiwe.
Volgens mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en landbou-inligting by die landbousakekamer Agbiz, sal hierdie produkte waarskynlik die meeste geraak word weens hulle waarde- en markaandeel.