Die TLU SA sê van die uiters ongunstige elemente wat hom verhinder om sy mandaat uit te voer, het die Regering van die dag die grootste negatiewe faktor geword.
Mnr. Ben Marais, voorsitter, het in sy voorsittersrede by die organisasie se jaarkongres in Pretoria gesê die TLU SA wil kommersiële boere veilig en volhoubaar op hul grond hou. “Die werklikheid in Suid-Afrika is egter verwronge weens politiekery en ’n ideologiese beheptheid waar verwagtinge geskep word wat net eenvoudig op geen wyse gediens kan word nie.”
Hy het onder meer verwys na die “polities-geïnspireerde sogenaamde plaaswerkerberaad wat geen eerbare doel in belang van die boer en/of sy werkers gehad het nie”, die onvermoë om na die veiligheid van inwoners van die land om te sien en vraagtekens oor grondhervorming.
“Die hele proses van grondoordrag is hoegenaamd nie deursigtig nie en hou vir niemand iets goeds in nie. Die Regering is duidelik besig met ’n nasionaliseringsbeleid.”
Grondbesit bly 'n kwessie
Daar word aanmekaar gesê dat blankes 87% van die land besit. Suid-Afrika beslaan ’n gebied van 122 miljoen ha. Hy sê indien die 35 000 kommersiële boere almal blankes is – wat nie die geval is nie – sou die gemiddelde plaasgrootte sowat 3 000 ha wees en almal besef dit is nie naastenby moontlik nie.
Hy sê boere word gedreig dat daar ’n rewolusie gaan wees as die massas nie grond kry nie. Die Regering moet vra of hy die rewolusie sal kan hanteer as die mense nie meer kos het om te eet nie. “Die honger vir kos is baie meer seer as die honger na grond.”
Die voedselrealiteit in die wêreld, en meer spesifiek in Suider-Afrika, noodsaak dat die regte dinge op die regte tyd gedoen moet word rakende die beskikbare landbougrond.
8 September 2010