
Die organisasie sê in reaksie op die nuus dat die land se ekonomie in die eerste kwartaal met 3,2% gekrimp het, en die landbou-ekonomie met 13,2%, dit is geen skok nie. “Suid-Afrika se boere is weens onbesonne regeringsbeleid, ’n vernietigende droogte, die tot niet gaan van plattelandse infrastruktuur en hul blootstelling aan ’n onverklaarde oorlog teen hulle in ’n ál feller stryd om oorlewing gewikkel,” luidens die verklaring.
Mnr. Johan Steyn, Oos-Kaapse voorsitter van TLU SA, sê die landbou is in die onbenydenswaardige situasie waar uitgawes die hoogte in skiet, terwyl inkomste al laer neig.
TLU SA sê die landbou het al keer op keer bewys dat hy, ondanks uiters moeilike landbou-omstandighede, ’n stewige bydra tot die bruto binnelandse produk (BBP) kon maak.
“Ongelukkig wil dit blyk dat die volgehoue vernietigende effek van ’n kommunistiese ANC-regering sy tol begin eis,” sê Steyn. “Die uitvoer van verskeie landbouprodukte soos vleis, wol en teelmateriaal is stopgesit nadat daar vroeg vanjaar in Limpopo ’n uitbreking van bek-en-klouseer was. Dit knou die landbou se verdienste aansienlik.”
Steyn sê die uitbreking was weens bestaansboere wat nie dieregesondheidsmaatreëls nagekom het nie, en die feit dat vee vanuit buurlande onbelemmerde toegang tot Suid-Afrika het.
Droogte
Hy sê boere ly boonop ook nog in groot dele van die Oos-, Noord- en Wes-Kaap onder ‘n uitmergelende droogte. “Boere se reserwes is op. Baie is van die genade en groothartigheid van medeboere en ander mense afhanklik. Ondanks die feit dat droogtehulp hier en daar beskikbaar gestel is, sorg die korrupsie, wanadministrasie, diefstal en blote onbeholpenheid van regeringsamptenare dat dié hulp nie by die boer uitkom nie.”
Volgens Steyn ding baie Afrikalande mee om Suid-Afrika se boere daar te vestig, maar dit blyk dat die ANC nie die landbousektor na waarde skat nie. “Die mark is besig om hulle, en ongelukkig die gewone man op straat, ’n duur les te leer. Die jongste ekonomiese syfers bewys dit baie duidelik.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.