
Dit blyk dat die Regering oneerlik is met die parlement en die publiek van Suid-Afrika oor die aanwending van inkomste uit e-tol en die VF Plus gaan eis dat die betrokke minister met die waarheid hieroor vorendag kom, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens Alberts is dit op rekord dat die betrokke minister skriftelik in reaksie op 'n geskrewe parlementêre vraag teenoor hom bevestig het die inkomste uit e-tol, waarvoor hoofsaaklik Gautengers betaal, uitsluitlik vir die instandhouding van die Gautengse snelwegstelsel gebruik gaan word.
Luidens 'n berig in die Business Day het 'n woordvoerder van die departement egter eergister voor die e-tol-evalueringspaneel getuig dat e-tolgeld ook gebruik kan word om te help met die instandhouding van die res van die land se paaie, waar tans 'n agterstand van sowat R200 miljard is.
Alberts sê dit is duidelik dat die parlement mislei is en dat Gautengers oënskynlik wel sal moet opdok vir die res van die land se paaie.
“Hierdie uitlating staan in regstreekse kontras met 'n antwoord wat die VF Plus van die minister gekry het waarin gesê is die geld sal nie vir ander provinsies aangewend word nie.