‘n Gunstige regeringsbeleid is die deurslaggewende faktor wat die haalbaarheid van enige biobrandstofbedryf bepaal, sê mnr. Peter Baily, ‘n bio-energiekenner wat al 30 jaar met internasionale energie-projekte gemoeid is.
Baily het in Durban by ‘n Afrika-beleggingsberaad vir landboubesighede gesê as die prys reg is en wetgewing is in plek om ‘n mark te verseker, sal daar beleggers wees om ‘n bio-brandstofbedryf te skep.
Baily wat ’n internasionale suikermaatskappy, GBI Sugar and Bio-energy verteenwoordig, sê die sukses van Brasilië se etanolbedryf is ’n sprekende voorbeeld. “Die regering het aanvanklik die pryse vir etanol en bio-energie kunsmatig verdubbel maar kyk waar staan die bedryf vandag. Dieselfde kan in Afrika gedoen word.”
Mnr. Philip Morkel, GBI se direkteur vir sake-ontwikkeling, het gesê die water en natuurlike hulpbronne is beskikbaar om tussen 10 en 20 miljoen ton suiker noord van Suid-Afrika te produseer. GBI het 123 moontlike projekte ten opsigte van klimaat, beskikbare infrastruktuur en markomstandighede in 20 lande in Afrika ontleed.
Ontwikkeling van projekte
Ontwikkeling van 8 projekte is reeds aan die gang. Hy sê ’n tipiese suikerprojek behels aanplantings van tussen 6 000 en 20 000 ha en werksgeleenthede vir sowat 10 000 mense. Daar word gesoek na beleggers om hierby betrokke te raak.
Die beleggingskonferensie is ’n gesamentlik poging van Africa Investor, ’n internasionale beleggingsnavorsing en -kommunikasiegroep in samewerking met die KwaZulu-Natalse Departement van Landbou, Omgewingsake en Landelike Ontwikkeling.
Meer as 20 internasionale beleggers, wat saam meer as R7 miljard se beleggersgeld verteenwoordig, is byeen om landbouprojekte in Afrika te oorweeg.
2 September 2010