Versuim om dit te doen sal die laaste spyker in die doodskis wees vir ’n 174 jaar oue bedryf wat jaarliks 18 miljoen ton suikerriet verbou en waarvan 1 miljoen mense se lewensbestaan regstreeks en onregstreeks afhang.
Dít het aan die lig gekom tydens ’n media-inligtingsessie wat onlangs in Johannesburg deur bestuurders van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) aangebied is.
Joernaliste is tydens die sessie ingelig dat fase 1 van die drie jaar oue meesterplan vir die suikerrietwaardeketting tot 2030, wat met die samewerking van die departement van handel, nywerheid en mededinging ontwikkel is, op 1 Maart 2023 tot ’n einde kom.
Dié fase was bedoel om die lang finansieel sukkelende suikerrietwaardeketting tyd te gun om homself in rat te kry vir die plan se fase 2 wat op 1 Maart 2023 te begin. Die tweede fase konsentreer op die diversifikasie van suikerriet-gebaseerde inkomstestrome weg van die bedryf se historiese afhanklikheid van hoofsaaklik suikerproduksie en -bemarking.
Mnr. Sifiso Mhlaba, die SASV se bestuursbeampte van nasionale mark- en internasionale aangeleenthede, het aan die inligtingsessie gesê die nasionale tesourie se gesondheidsbevorderingsheffing, oftewel suikerbelasting, wat sedert April 2018 ingevorder word, het tot 25 000 werksgeleenthede verlore laat gaan, die binnelandse vraag deur die drankiesbedryf na plaaslike suiker met 250 000 ton per jaar verminder en gelei tot ’n potensiële inkomsteverlies van R4 miljard tot dusver.
Hy het bygevoeg dat indien mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, se voorstelle om die suikerbelasting vanaf April 2023 te verhoog en uit te brei, tot vervulling kom voordat die meesterplan se fase 2 ten volle toegepas kan word, sal Suid-Afrika se primêre suikerrietwaardeketting waarskynlik ineenstort.
So ’n stap sal 65 000 regstreekse werksgeleenthede uitroei, die ondernemings van 20 200 kleinerskaalse en 1 300 groterskaalse suikerrietkwekers verwoes, R18 miljard se bedryfsinkomste uit die ekonomie verwyder en 18 miljoen ton jaarlikse suikerrietproduksie met absoluut geen nut laat nie.
Moratorium
Mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die SASV, het sy en die primêre suikerrietwaardeketting se pleidooi aan Godongwana herhaal om ’n moratorium van drie jaar op verhogings en veranderinge aan die suikerbelasting te plaas.
Dit sal die suikerbedryf die tyd en die geld vir ’n tydperk van drie tot vyf jaar toelaat wat dit nodig het om gediversifiseerde inkomstestrome van suikerriet tot stand te bring. Sulke potensiële ander inkomstestrome sluit die produksie van biobrandstof, gelyktydig opgewekte krag en die vervaardiging van ander biogebaseerde produkte in.
“Ons vra bloot dat ons die ruimte gegun word om eers hierdie proses af te handel voordat ’n verhoging in die koers van die gesondheidsbevorderingsheffing in werking gestel word. Dan sal ons ten minste kan oorleef sodra dié verhoogde koers in werking tree.
"Ek dink dat die ingesteldheid van die regering se hantering van fiskale beleid, soos belasting, anders of afsonderlik van handels- en nywerheidsbeleid, soos die ontwikkeling van die suikerbedryf se produktiwiteit en lewensvatbaarheid, moet verander,” het Trikam gesê.
Trikam en Mhlaba het Godongwana aangemoedig om sy verbintenis van Februarie 2022 om openbare raadpleging oor die minister se voorgestelde verhogings en veranderings aan die bestaande suikerbelasting aan te bied, dringend op te volg.
Dit sal die suikerbedryf die geleentheid bied om sy motivering vir die moratorium omvattend aan die regering en die publiek voor te hou.
Min produsente is betaal
Ongeveer 4 300 suikerrietkwekers wat amper 600 000 ton in September aan Tongaat Hulett gelewer het, moes teen einde Oktober altesame meer as R400 miljoen in betaling daarvoor ontvang het.
Luidens 'n verklaring is bekend gemaak dat sommige van die kleiner kwekers teen die naweek hul geld ontvang het. Mnr. Andre Russell, voorsitter van die Suikerrietkwekersvereniging, sê vir die groot kommersiële boere is die wa wat betalings betref, nog nie deur die drif nie.
“Ons kan bevestig van die kleiner boere wat riet aan die Felixton-, Amatikulu- en Maidstone-meulens in September gelewer het, het hul geld ontvang. Kommersiële boere is nog nie betaal nie. Sowat 300 van dié produsente was verantwoordelik vir meer as die helfte van die riet wat gedurende September aan Tongaat gelewer is. Hulle neem ook die meeste van die 14 642 mense in diens wie se werksgeleenthede nou in gedrang is.”
Teen die einde van November moet daar weer betalings van ongeveer R345 miljoen gemaak word vir die 570 000 ton riet wat produsente vir Oktober aan Tongaat gelewer het.
Hy sê die vereniging gesels reeds met die sakeredders en ander rolspelers en hoop alle produsente word betaal, want buiten vir hul plaaswerkers, moet hulle ook kontrakteurs en anders verskaffers betaal.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.