‘n Periode van amnestie vir skrootmetaalhandelaars wat onwettig skroot koop gaan straks aangekondig word voor tronkstraf hulle onwettige optrede kan stuit. Hoewel die Wes-Kaap nie kopermyne het nie, is dit die provinsie wat die meeste koper in die land uitvoer.
Die landbousektor is gereeld in die visier van boosdoeners wat spreierkoppe stukkend slaan, draadomheinings steel en koperkabels buit om vir skroot te verkoop. Dit jaag boere miljoene rande uit die sak aan herstelwerk en vervanging.
Mnr. Francois Malan, ‘n boer van Koelenhof naby Stellenbosch, het Woensdagaand by ‘n vergadering oor geweldsmisdaad in die dorp gesê die mark vir skrootmetaal is “die voedingsbron vir tikverslawing”. Dit lei uiteindelik weer tot ander misdade.
“Ek loop deur onder kabeldiefstal. Ek moes sedert Desember al agt keer my Eskom-kabels vervang,” het Malan gesê.
Voedselproduksie belemmer
Dit is ‘n probleem regdeur die provinsie en boere uit die Overhex-omgewing het al sowat drie jaar gelede vir Landbouweekblad gesê dit belemmer voedselproduksie. Mnr. Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van veiligheid en sekuriteit, het gesê hy en premier Helen Zille is in gesprek oor hierdie probleem.
“Ons wil weet wanneer gaan politici die moed hê om teen skroothandelaars op te tree? As daar nie ‘n mark is nie, gaan niemand steel nie.”
Skroothandelaars wat gesteelde metale soos yster, alliminium, geelkoper en koper koop teken dit tipies nie in hul registers aan nie en hou dit dikwels ook nie op hul werf nie.
‘n Klein persentasie van diewe wat in hegtenis geneem word met gesteelde metaal, word skuldig bevind. Die regmatige eienaar en polisie moet kan bewys dié metale is sy eiendom.
Die diewe bring egter nie die gesteelde voorwerpe in sy oorspronklike vorm na die skroothandelaars nie. Gewoonlik word dit eers in stukke gekap of onidentifiseerbaar gemaak sodat dit onmoontlik is om eienaarskap te bewys.
Kriminele vervolging
Volgens Fritz oorweeg hulle om ‘n periode van amnestie in te stel sodat skrootmetaalhandelaars wat onwettige skroot koop “kan skoonkom”.
“Daarna moet ons arrestasies maak en hulle moet tronk toe gestuur word. As ‘n witboordjie-persoon tronk toe gaan, sal niemand ooit weer gesteelde goed koop nie.”
Lees hier meer oor die probleem van skroothandel.
28 Februarie 2011