
Die operasie is ’n gesamentlike projek van die presidensie en die nasionale tesourie. Mnr. Mondli Gungubele, minister in die presidensie, en mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het onlangs verslag gedoen oor die vordering in die tweede kwartaal van die jaar.
Gungubele het gesê daar is nou meer as 80 hernubare kragopwekkingsprojekte in die vooruitsig met ’n gesamentlike kapasiteit van meer as 6 000 MW. Die gesamentlike taakspan wat vir Operasie Vulindlela opgestel is, het ook sleutelveranderinge ingestel om regulatoriese vereistes meer vaartbelyn te maak.
“Die gemiddelde tyd om projekte by Nersa te registreer, is nou versnel van soveel as vier maande tot net 19 dae en die tyd wat dit duur om ’n omgewingsimpakstudie te voltooi, is verminder van sowat 150 dae tot 57 dae. Vir projekte om sou gou moontlik te kan voortgaan, is Eskom ook versoek om goedkeuring vir verbindings te versnel.”
Nescom
Hy het gesê dat die energie-krisiskomitee (Nescom) op die been gebring is en voluit werk om die aksieplan vir energie so vinnig en volledig as moontlik toe te pas. “Bouwerk aan die kragprojekte sal werk skep, terwyl sekerheid oor energie-verskaffing tot verdere beleggings in die ekonomie sal lei.”
Hy het gesê die sleutelbestanddele vir ekonomiese groei is betroubare elektrisiteitsvoorsiening, ’n doeltreffende stelsel vir skeeps- en spoorvragvervoer, goedkoper data en beter telekommunikasie, sekerheid van watervoorsiening en vaardighede om produktiwiteit en innovering aan te dryf. “As ons hierdie aspekte van Operasie Vulindela reg kan kry, kan ons die ekonomie op ’n nuwe pad van groei plaas en werk skep.”
Godongwana, wat oor die ander aspekte verslag gedoen het, het gesê een van die suksesverhale is dat die opeenhoping van bykans 1 000 aansoeke vir watergebruikslisensies sedert April weggewerk is as deel van ’n omkeerstrategie. “Dit sal miljarde rande ontsluit vir nuwe beleggings in die landbou, bosbou en ander sektore wat nie kon voortgaan weens die uitstaande watergebruikslisensies nie.”
Watergebruikslisensies
Die departement van water en sanitasie het hom nou verbind tot ’n spertyd van 90 dae vir watergebruikslisensies waar dit voorheen tot 300 dae geduur het. Hy sê daar is ook aansienlike vordering gemaak met die stigting van ’n nasionale agentskap vir waterhulpbron-infrastruktuur en ’n konsep word binnekort vir kommentaar beskikbaar gestel.
Wat vervoer betref, het hy gesê daar is nog baie probleme met hawe- en spoorinfrastruktuur, maar Transnet se werkverrigting en ook sy geldelike posisie het verbeter. Die private sektor is op die punt om betrokke te raak by spoorvragvervoer met 16 geleenthede wat beskikbaar gestel is op die Durban-City Deep-roete en die Pretoria-Oos-Londen-roete. Aansoeke daarvoor sluit die einde van die maand.
Hy het gesê dit is die eerste stap om toegang vir die private sektor moontlik te maak. Daar word ook gewerk om die private sektor teen Januarie aanstaande jaar betrokke te kry by hawens se houerterminale. “Dit is ’n groot stap vorentoe om ervare internasionale operateurs in staat te stel om te belê in infrastruktuuruitbreidings by hawens en die bestuur by hawens te verbeter.”