
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oorweeg weekliks die beskikbare syfers rondom die uitbreking van die siekte. Die departement het vroeër vandeesweek luidens ’n verklaring aangedui daar word oorweeg om die verbod op die verskuiwing van beeste in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap op te hef aangesien bek-en-klouseer nog nie in hierdie provinsies aangemeld is nie.
Van Reenen sê dié verklaring gee nie duidelikheid oor wanneer die verbod opgehef sal word nie. Die rooivleisbedryf is nie gekonsulteer of vir insette oor die verbod gevra nie, hoewel dit belangrik is dat die regering erkenning gee aan die bedryf se rol in die bekamping van die siekte.
“Daar sal moontlik ’n stryery wees as die regering nie die bedryf se deelname bevorder nie,” sê Van Reenen. “Dit moet gedoen word omdat die kontinuïteit van die verskaffing van beesvleis ons topprioriteit is. Dit is egter baie moeilik om dit te verseker as ons insette nie gevra word nie.”
Die gedeeltelike opheffing van die verbod is vir hom kommerwekkend. “Ons meen dat om die verbod in sommige provinsies op te hef sal nie help om die siekte te bekamp nie. Ons moet eerder meer beheermaatreëls in die rooigebiede toepas.”
Vermoë om te polisieer
Die georganiseerde landbou het die moontlike gedeeltelike opheffing van die verbod verwelkom aangesien dit verligting aan boere in dié provinsies sal bied, maar daar is bedenkinge oor die regering se vermoë om die provinsies se grense te polisieer.
Die Rooivleisprodusente-organisasie beklemtoon in sy jongste bulletin dat die besluit om die verbod in te stel, nie deur die rooivleiswaardeketting geneem is nie. “Bek-en-klouseer is ’n beheerde siekte waarvoor die staat die verantwoordelikheid het, hetsy op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak.”
Hy gee toe dat ’n omdraaistrategie waarskynlik noodsaaklik geword het omdat daar in die afgelope twee weke 15 nuwe uitbrekings was en nog twee provinsies geraak is.
“Hierdie nuwe uitbrekings het voorgekom tydens die huidige grendeltydperk. Dit is ’n aanduiding van hoe versigtig opgetree moet word en hoeveel moeite gedoen moet word om die verdere verspreiding van die virus te bekamp.”
Die organisasie sê daar kan net bespiegel word wat die totale getal uitbrekings sou wees indien die verbod nie ingestel was nie.
Intussen het Onderstepoort Biologiese Produkte aangedui dat ten einde broodnodige verligting aan veeboere te bied, sal daar geen prysverhoging wees op sy produkte in die nuwe pryssiklus, wat op 1 Oktober begin nie.
Botswana se ministerie van landbou het ook hul maatreëls oor bek-en-klouseer en beweging van vee verander.