
Dié
aankondiging volg op Eskom se erkenning verlede week dat daar nie meer geld is
vir diesel nie. Eskom het veral die afgelope jaar staatgemaak op diesel om
beurtkrag te probeer beperk.
Die nutsmaatskappy het verlede week gesê amper R12 miljard se diesel is die afgelope sewe maande gebrand deur sy oopsiklus-gasturbines, maar geld om dit aan te hou doen, is nou op.
Mnr. Chris Yelland, energiekenner, het gister op sy Twitter-rekening bekend gemaak Eskom het aan hom erken daar sal eers weer in April 2023 geld wees om diesel te bestel.
Mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het egter in 'n mediaverklaring gesê ’n dringende vergadering is gister gehou met Eskom-direksielede, gelei deur mnr. Mpho Makwana, voorsitter van die direksie.
“Die departement van openbare ondernemings werk dringend saam met die nasionale tesourie en Eskom om iewers geld te vind om dieselvoorraad te kan aankoop,” luidens die verklaring.
Volgens Gordhan ondersoek hulle ook maniere om geld wat reeds aan Eskom toegewys is, in te span vir diesel-aankope en onderhoudswerk.
Eskom het verlede week sy voorspellings oor beurtkrag vir die volgende 10 maande aangedui. Daarvolgens sal fase 3-beurtkrag omtrent elke dag van elke maand ingestel moet word ás Eskom genoeg geld het om diesel te gebruik. (Die hoeveelheid dae per maand is van 23 tot 29 dae). Indien Eskom se scenario vir fase 2-beurtkrag oor die volgende 10 maande realiseer, sal die aantal dae per maand wissel van 10 tot 12 dae teen ’n koste van R1,3 miljard tot R5 miljard vir diesel.
“Daar word dringend gekyk hoe samewerking met alle wetstoepassingsorganisasies kan help om onmiddellik ’n einde te bring aan onderbrekings en misdaad wat kragsentrales se bedrywighede beïnvloed.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.