
Een van die doelwitte van die plan is om die bedryf in staat te stel om ’n groter deel tot die land se ekonomie by te dra.
Die voorgenome ontwikkelingsplan is deel van die werk wat die departement in die huidige administrasie wil klaarmaak. Die Regering se nuwe administratiewe termyn skop af ná die algemene verkiesing wat waarskynlik in Mei sal plaasvind. Die ontwikkelingsplan sal as riglyn dien vir openbare en private beleggings in die sektor vir die tydperk 2019 tot 2025.
Hierdie plan is veronderstel om die besluit wat die Suid-Afrikaanse regering as deel van die AU in 2003 tydens ’n beraad in Maputo geneem het, te onderstreep.
Volgens dié besluit sal die AU-lidlande elk 10% van hul begroting aan landbou afstaan. Dié onderneming staan bekend as die Maputo-verklaring, en dié verklaring is tydens ’n AU-beraad in 2014 in Malabo, Ekwatoriaal-Guinee, herbevestig.
Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê van die sleutelprojekte waarop die departement in die laaste termyn sal fokus is die pluimvee-, rooivleis-, vrugte-, groente- en wynbedryf. Hulle sal ook aandag skenk aan transformasie in die landbou-arbeidsmark, ondersteuning van produsente en die implementering van volhoubare grondhervorming.
In terme van beleidsingrypings of -veranderinge sal die departement ’n wetsontwerp ter ondersteuning van produsente ontwikkel en die wetsontwerp op die bewaring en ontwikkeling van landbougrond ter tafel lê.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.