Die saamstel van ’n akkurate register van alle landbouprodusente in Suid-Afrika gaan binnekort in KwaZulu-Natal begin, aldus die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Luidens ’n verklaring beoog die departement om so ’n register in elke provinsie te laat opstel.
Die departement sê dié veldtog volg ná versoeke dat so ’n databasis nodig is om probleme rondom inligtingsgebreke te oorkom. Dit sal ook tot beter interaksie tussen boere en die staat lei.
Beter beplanning
Die boereregister-inisiatief, wat soos ’n sensus saamgestel sal word, sal die departement en die staat help om ingeligte besluite oor beleide te maak asook om hul beplanning rondom die landbou te verbeter.
Die departement wil deur middel van die register ook sy dienslewering aan die hele landbousektor opskerp. Die eerste opnames sal vandeesmaand in die distrik Mgungundlovu gedoen word.
’n Span van agt verteenwoordigers van die departement en 100 gekontrakteerde werkers is reeds na KZN gestuur en hulle sal elke plaas en boer besoek om data in te samel.
Dié data sal fokus op eienaarskap, demografie, werksgeleenthede, produksie-kapasiteit en die tipe produkte wat op elke plaas en in elke geografiese gebied geproduseer word.
Die data-insamelaars sal vergesel word deur beamptes van die departement wat aan produsente bekend is.
Prestasie
Die departement het besluit om die opname te doen in ’n poging om die prestasie van die bedryf akkuraat te kan meet, asook om meer ingeligte besluite oor voorrangsake en beleidsvorming te kan maak, sê mnr. Langa Zita, direkteur-generaal van die departement.
“Tans staar probleme ten opsigte van die lewering en monitering van dienste ten opsigte van grondherverdeling, verblyfreg en restitusie-teikens ons in die gesig. Die ontwikkeling van swart Suid-Afrikaanse boere kan ook nie behoorlik gemeet word nie omdat statistiek in dié verband ontbreek,” aldus Zita.
Die databasis kan die departement ook bystaan wanneer siektes uitbreek.
3 Oktober 2011