
Die Regering steun ten sterkste die voorstel dat die hof die kant van 'n plaasbewoner móét aanhoor voordat enige uitsettingsbevele toegestaan word.
Wysigings aan die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) word die afgelope tyd by die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming bespreek. Dié wetgewing word hersien nadat bevind is dat dit nie voldoende die verblyfreg van plaaswerkers en -bewoners beskerm nie.
Agbiz het in sy voorlegging aan die komitee aangedui dat hy ten volle bewoners se reg tot regsverteenwoordiging erken, maar dat dit nie ’n voorvereiste vir plaasuitsettings gemaak kan word nie.
As plaasbewoner afgesit word
Volgens die wysigingswet kan ’n plaasbewoner slegs van ’n plaas gesit word as daar ’n hofbevel is, en indien die bewoner regsverteenwoordiging gehad het toe die hofbevel toegestaan is. Dit stipuleer verder dat die uitsetting nie kan plaasvind tensy die bewoner sy reg tot staatsgefinansierde regshulp geweier het nie en as die hof vind dat geregtigheid geskaad sal word indien regsverteenwoordiging nie toegelaat word nie.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, het aangedui dat die bewoording van die klousule die jurisdiksie van die hof beperk in situasies waar die regeringsdepartement nie voldoen aan die verantwoordelikheid wat die hof aan hom toesê nie en dat dit dan tot nadeel van die grondeienaar sal wees.
Daar is ook geen voorsiening in die Grondwet wat regsverteenwoordiging verseker of afdwing in so ’n situasie nie, en die howe kan nie en moet nie belet word om sy goeie oordeel uit te oefen net omdat die bewoner nie regsverteenwoordiging gehad het nie, het hy gesê.
Grondwethof toe?
“Agbiz se standpunt is dat hierdie bepaling ’n ongegronde beperking tot die reg van die grondeienaar is en dat dit in die Grondwethof uitgedaag sal word, indien nodig.”
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het gesê op die oomblik kan die boer hom na die hof wend vir ’n uitsettingsbevel sonder dat die geaffekteerde party sy kant van die saak stel. “Dit is onregverdig. Die geaffekteerde party moet by wees wanneer die versoek vir ’n uitsettingsbevel aangehoor word.”
Regering wil daarvan weet
Volgens Nkwinti sal hierdie proses ook help dat plaaswerkers en -bewoners nie van plase gesit word sonder dat die Regering daarvan weet nie. “Jy moet weet daar kom ’n uitsettingsbevel en wanneer jy weet, dan weet ons ook en ons sal ’n prokureur kry om jou saak in die hof te stel sodat daar ’n gebalanseerde siening van die kwessie is voordat die hof ’n besluit neem,” het hy gesê.
“Ons wil die gaping toemaak, sodat wanneer die hof sy bevinding maak, hy albei kante gehoor het. Op die oomblik gaan die plaaseienaar na die hof en kry ’n wettige uitsettingsbevel en die balju sit die bewoner wettig van die plaas. Daar is ’n element van geregtigheid wat nie aan die ander kant vervul is nie,” het Nkwinti benadruk.