Regstappe kan moontlik teen die Landboukollege Potchefstroom gedoen word weens die verval by die kollege, sê AfriForum Jeug.
Luidens ’n mediaverklaring het die regspan Woensdag (2 Mei 2012) ’n versoek ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting aan die landboukollege gerig.
Die kollege word gevra om alle finansiële verslae en inligting van 2005 tot 2012 ten opsigte van besteding aan instandhouding en infrastruktuur by die kollege bekend te maak.
Dié stap volg ná ’n gesondheids- en veiligheidsondersoek deur ’n onafhanklike konsultant bevind het dat die kollege risiko’s vir studente se gesondheid en veiligheid inhou.
Die organisasie het dié inligting aan die kollegebestuur oorgedra, en hom ’n maand gegee om verbeterings aan te bring voordat regsaksie sou volg.
“AfriForum Jeug probeer al vir die afgelope jaar om met die kollegebestuur saam te werk om ’n reddingsplan saam te stel wat instandhouding by die kollege sal regruk. Daar het steeds geen verbetering ingetree nie, terwyl studente se lewens in gevaar gestel word,” sê Ian Cameron, woordvoerder.
Eise
AfriForum versoek die volgende inligting van die kollege:
- Die bedrag wat jaarliks vir infrastruktuur en die instandhouding van die kollege begroot en toegeken word.
- Die toegekende bedrag wat aan infrastruktuur en instandhouding bestee is.
- ’n Uiteensetting van hoeveel geld uit die onderhoudsbegroting aan onder meer koshuise, geskiedkundige geboue, ry- en looppaaie, tuine en ander onderhoudwerk bestee is.
Wanbesteding
Die organisasie meen dit is duidelik dat die kollege se geld wanbestuur word. Na gelang van die inligting wat verskaf word, sal die organisasie ’n hof nader as die situasie nie andersins opgelos kan word nie.
“Die bestuur is spandabelrig en traak-my-nie-agtig. Indien die kollege se toekoms verseker wil word, sal die studentedekaan en die hoof van die kollege onmiddellik vervang moet word. Verder het alle pogings om met die LUR, mnr. Boitumelo Tshwene, oor die kwessie te praat, misluk”, sê Cameron.
Landbou.com wag tans op reaksie van die departement van landbou en landelike ontwikkeling in Noordwes oor AfriForum se stellings.
* Vind aangeheg by die berig die brief aan die kollege se bestuur.
2 Mei 2012