Voorgestelde wysigings oor die bepaling van pryse vir onbehandelde water is een van die kwessies wat boere vanjaar regstreeks kan raak. ’n Hersiene waterprysstrategie is verlede jaar vir kommentaar afgekondig en dit behoort vanjaar duidelik te word hoeveel van die kommentaar daarop die departement in ag gaan neem.
Mnr. Janse Rabie, hoof van wetgewing en beleid by Agri SA, en me. Annelize Crosby, hoof van regsintelligensie by die landboubesigheidskamer Agbiz, is albei bekommerd oor die moontlike prysverhogings wat voorgestelde heffings in die strategie vir die landbou kan meebring.
In die dokument word ook voorgestel dat weggedoen word met die bobeperking (capping, of kosteverhogingsdrempels) wat tans maksimum jaarlikse verhogings stel ten opsigte van bedryfs- en onderhoudkoste van staatsinfrastruktuur wat nie afbetaal is nie.