
Ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die voorval het op die R57 plaasgevind toe twee boere vyf vermeende veediewe agterna gesit het. Een van die verdagtes is in die proses doodgeskiet. Twee van die vermeende veediewe is van veediefstal aangekla. Die twee boere is ook in hegtenis geneem en van moord en poging tot moord aangekla.
Volgens Mophiring word daar aangevoer dat die 46-jarige boer en sy 38-jarige broer vroeg vanoggend rondom 02:15 op ’n grys Ford Ranger-bakkie met vyf insittendes afgekom het. Hulle het die boere aangeval en skote is afgevuur. Een van die insittendes is doodgeskiet, twee is in hegtenis geneem en twee het van die toneel gevlug.
Daar is beslag gelê op die bakkie asook die twee boere se vuurwapens, wat vir verdere ondersoek en ballistiese toetse gestuur sal word.
Volgens Mophiring sal die twee verdagtes wat van veediefstal aangekla word Maandag 6 Junie in die Reitz-landdroshof verskyn. Die ander verdagtes het vandag in dieselfde hof verskyn.
*Hou Landbou.com dop vir meer inligting oor die saak soos dit beskikbaar raak.