
’n Geskiedkundige 33 miljoen ton mielies sal na verwagting in Suidelike en Oos-Afrika geoes word, sê prof. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) en verbonde aan die Universiteit van Pretoria.
Die belangrikste eerste projeksies wat vir die streek gedoen is, dui aan dat mielieproduksie vir 2014 die hoogste produksie van dié gewas in die geskiedenis van die streek is. Van die net meer as 33 miljoen ton mielies, kom 14,3 miljoen ton uit Suid-Afrika. Dié streek sal kan uitsien na ’n surplus van ongeveer 3 miljoen ton, sê Meyer.
“Die land met die grootste gedeelte van die surplus is en bly Suid-Afrika en die langtermyn projeksie is dat ons oor die volgende tien jaar nog 1,5 miljoen hektaar meer mielies in die streek sal plant.
“Die afgelope tien jaar het produksie met sowat 2 miljoen ton gestyg.”
Die ander lande wat deel van die streek uitmaak, is die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kenia, Malawi, Mosambiek, Tanzanië en Zambië.
Meyer sê die dinamiese drywers wat hulle nou ook optel is die veevoerverbruik in Afrika. “Die menslike verbruik is met ‘n groot marge die dominante verbruik en gaan nog styg omdat die bevolking vinnig toeneem.
Daar is ’n groter skuif na dierlike proteïene en dit dryf natuurlik die veevoer verbruik en daarom kan daar moontlik binne ‘n paar jaar die verbouing van meer geel mielies in die Afrikastreek gesien word.
Meyer sê die implikasies vir die Suid-Afrikaanse mielieboer is ook belangrik om oor te dink. As lande soos Zambië byvoorbeeld aanhou om ‘n surplus te produseer, gaan dit die Suid-Afrikaanse uitvoermark na Zimbabwe wesenlik beïnvloed.