
Met die hele jaar se handelsdata wat nou bekend is, kan Suid-Afrika spog met landbou-uitvoer ter waarde van $12,8 miljard (R235,5 miljard) in 2022. Dit is 4% hoër as die vorige jaar.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbouskakekamer Agbiz, sê in ’n markoorsig die vernaamste uitvoerprodukte was mielies, wyn, druiwe, sitrus, bessies, neute, appels, pere, suiker, avokado’s en wol. Die uitvoer was versprei oor verskeie markte met Afrika die grootste mark waarheen 37% van produkte uitgevoer is gevolg deur Asië met 27%, die Europese Unie (EU) met 19% en die Amerikas met 7%. Die oorblywende 10% gaan na ander dele van die wêreld.
Afrika en Asië het ’n redelike groot hoeveelheid mielies ingevoer, terwyl ander wêrelddele hoofsaaklik vrugte en wyn invoer. “Die verbetering in die uitvoerverdienste kan hoofsaaklik toegeskryf word aan hoër kommoditeitspryse. Die uitvoervolume van sommige produkte het ietwat afgeneem namate produksie afgeneem het, maar die hoër pryse op die wêreldmark vir veral grane het meer as vergoed vir die afname.”
Sihlobo wys ook op Suid-Afrika se landbou-invoer wat veral produkte soos rys, palmolie, koring, hoendervleis en whiskey insluit. Dit het in 2022 $7,3 miljard (R134,9 miljard) beloop het – 6% meer as die vorige jaar. Gegewe die waarde van die uitvoer teenoor die invoer het Suid-Afrika ’n handelsurplus van $5,5 miljard (R101,6 miljard), wat ook ’n rekord is.
Beleidsoogpunt
Hy waarsku dat uit ’n beleidsoogpunt dit van deurslaggewende belang is om te besef dat Suid-Afrika se landbou uitvoergedrewe is. “Daar moet gekonsentreer word daarop om goeie verhoudinge met ons vernaamste uitvoerlande te handhaaf, terwyl ook gesoek moet word na alternatiewe markte. Dit is veral belangrik te midde van die toenemende spanning tussen die Ooste en Weste.
“Suid-Afrika moet openlike en vriendelike verhouding met albei groeperinge handhaaf aangesien landbou-uitvoer eweredig versprei is in dié gebiede is. Voorkeurlande vir die uitbreiding van landbou-uitvoer behoort China, Suid-Korea, Japan, Amerika, Viëtnam, Taiwan, Indië, Saoedi-Arabië, Mexiko, die Fillipyne en Bangladesj te wees. Almal het aansienlik bevolkings en voer baie landbou-produkte in.”
Suid-Afrika se skitterende uitvoerverdienste was moontlik te midde van probleme by uitvoerhawens en Sihlobo sê georganiseerde landbougroepe, die regering, Transnet en ander logistieke groeperinge verdien lof vir die wyse waarop hulle onverpoos gewerk het om die vloei van produkte vir uitvoer moontlik te maak.
“Aan die begin van die jaar was daar byvoorbeeld logistieke probleme in die hawe van Kaapstad wat die uitvoer van tafeldruiwe en vrugte belemmer het. Goeie samewerking tussen Transnet en die georganiseerde landbou het gehelp om die probleme op te los. Durban se hawe het minder probleme ondervind as die vorige jaar, maar daar is steeds oral talle logisiteke probleme.”
Ondanks Suid-Afrika se uitvoerprestasie verlede jaar is daar ook handelstruikelblokke in van die belangrikste uitvoermarkte soos wol na China en sitrus na die EU wat kommer wek. Sihlobo sê China se tydelike verbod op die invoer van wol in reaksie op die uitbreking van bek-en-klouseer was ’n misstap aangesien daar maatreëls is om die veiligheid van wol wat uitgevoer word, te verseker. Hy sê hoewel die verbod later opgehef is, was dit ’n aansienlike geldelike terugslag vir wolboere aangesien meer as 70% van die woluitvoer na China gaan.
Nog ’n bedreiging is vereistes wat die EU ingestel het vir kouebehandeling vir die bekamping van valskodlingmot voor sitrus daarheen uitgevoer mag word. Dit is ’n omstrede kwessie omdat Suid-Afrika reeds streng maatreëls het om dit te beheer. As die kwessie nie voor vanjaar se uitvoerseisoen ontlont kan word nie, kan dit tot miljoene rande se verliese lei en die volhoubaarheid van die bedryf bedreig.
Uitvoer van graan hervat by Oos-Londense hawe
Intussen is 44 000 ton mielies vanaf die Oos-Londonse hawe na Mexiko op pad met uitvoer van graan wat by dié hawe hervat het nadat die silo’s by dié hawe twee jaar gelede tydelik gesluit is.
Die besluit om die uitvoer van graan vanaf die Oos-Londense hawe tydelik op te skort het gevolg nadat volumes in die streek aansienlik gedaal het – van 1 000 000 ton tot 48 000 ton per jaar in 2021.
Luidens ’n verklaring deur Transnet-haweterminale (TPT) was daar ook finansiële beperkinge op die hawe se graanhyser, wat ook een van Suid-Afrika se grootste silos is en met ’n kapasiteit van 66 000 ton.
Me. Naliya Stamper, die hawe se terminaalbestuurder, sê die samewerking tussen die Oos-Londense hawe, plaaslike belanghebbendes en die graanbedryf is ongekend en het gelei tot die ontsluiting van verdere ekonomiese geleenthede vir die Oos-Kaap.
Die Oos-Londense hawe is as een van twee hawens geïdentifiseer wat in die toekoms ’n belangrike rol in die in- en uitvoer van graan sal speel.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.