
’n Onbekende koper het R22 500 vir ’n kissie met ses bottels van dié besonderse wyn betaal. Die Britse wynskrywer Tim Atkin het in September 100 punte toegeken aan Kanonkop Paul Sauer 2015 – die eerste keer dat hy ’n Suid-Afrikaanse wyn volpunte gegee het.
Mnr. Abrie Beeslaar, Kanonkop se keldermeester, is baie tevrede met die uitslag. “Die vorige hoogste prys wat ons op die veiling behaal het, was sowat R12 000, as ek reg onthou. Hierdie is amper dubbel soveel.”
Hy meen Atkin se gloeiende verslag het ’n rol gespeel, maar die invloed
van die oesjaar moet nie onderskat word nie.
“Dit was ’n uitstekende oesjaar – in my loopbaan tot dusver staan 2003, 2009 en 2015 beslis uit. In 2015 was die klimaatstoestande van so ’n aard dat dit Suid-Afrikaanse wyne in ’n klassieke rigting gestuur het. Dit was koeler, daar was geen hittegolwe nie en hoewel dit redelik droog was, het die wingerd net genoeg stres ervaar.”
Kanonkop CWG Paul Sauer 2015 is ’n seleksie van wyn uit spesifieke vate. Daarom is die houtsamestelling effens anders as vir Kanonkop Paul Sauer 2015.
Omset meer as R10 miljoen
Die veiling se totale verkope het alle verwagtinge oortref en op meer as R10,5 miljoen te staan gekom. ’n Kis wyn het gemiddeld R5 265 behaal, en die gemiddelde prys per bottel was R878.
Mnr. Boela Gerber, voorsitter van die Kaapse Wynmakersgilde, skryf dit toe aan die strenger seleksieproses, asook ’n klem op kleiner volumes wyne van topgehalte.
Die Singita Tsogo Sun en die Marble-restaurant in Johannesburg was onder die kopers wat hul hande diep in die sakke gesteek het deur meer as R2 miljoen se wyn te koop.
Suid-Afrikaanse kopers het 79% van die wyn gekoop, terwyl die res deur oorsese kopers van so ver as Brittanje, Europa, Hongkong en Amerika opgeraap is.
Altesaam 48 wyne, waarvan 31 rooiwyne, 14 witwyne, twee Méthode Cap Classique-wyne en een portstyl wyn, het onder die hamer gekom.
Die rooiwynprodusente wat die hoogste gemiddelde pryse (per kis) behaal het, sluit in Kanonkop, Boekenhoutskloof, Rijk’s, Le Riche Wyne, Rust en Vrede, Newton Johnson Family Vineyards en Hartenberg. Aan die witwyn-kant het Mullineux, Ataraxia, Paul Cluver en Jordan behoorlik geskitter.
Hart vir liefdadigheid
Oudergewoonte was daar weer ’n liefdadigheidsveiling, wat vanjaar R115 500 ingesamel het vir die Gilde se Protégé-projek. Die projek is daarop toegespits om jong wynmakers en wingerdboukundiges op te lei.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.