Mnr. Nick Kunze, portefeuljebestuurder by Sanlam Private Wealth, sê Remgro besit 77,5% van RCL se aandele. RCL is ’n houermaatskappy vir verskeie voedselmaatskappye, waaronder Rainbow Chicken, Foodcorp, TSB Sugar, Zam Chick en Vector Logistics.
Kunze sê Remgro het dalk die RCL-aandele op die ope mark gekoop as voorloper tot ’n stap om die minderheidsaandeelhouers in dié genoteerde bedryfsfiliaal van hom uit te koop. “Dit blyk deesdae ’n neiging te wees by onderpresterende maatskappye met ’n klein markkapitalisasie.”
Kunze sê dit kan deel van Remgro se breër strategie wees om sy portefeulje van beleggings as ’t ware op te ruim, terwyl hy ook op die uitkyk is na aantreklike beleggingsmoontlikhede. “Voedsel blyk vir hulle ’n voorranggebied te wees. Remgro het verlede jaar Unilever se Spread-onderneming bekom.”