
‘n Renoster veg braaf voort nadat dit 11 keer deur stropers geskiet is op ‘n wildplaas tussen Warmbad en Thabazimbi.
Mnr. Gaven Holden-Smith, ‘n spoorsnyer, sê die boer het Dinsdag (11 Oktober 2011) op twee renosters afgekom wat slagoffers van stropers was.
Een van die renosters was egter nie gelukkig genoeg om te oorleef nie. Hy is sowat vyf dae voor die karkas gevind is, doodgeskiet en sy horing is verwyder. Die oorlewende renostervers is tussen vier en ses jaar oud. Die stropers het nie haar horing afgesaag nie.
Holden-Smith sê die dier word tans vir behandel en fyn gemonitor. Sy is met ‘n R4-geweer geskiet.
Twee witrenosters
Intussen het stropers ook in die Kruger Nasionale Park toegeslaan en twee witrenosters vir hulle horings doodgemaak. Luidens ‘n verklaring het wildbewaarders Dinsdagoggend (11 Oktober 2011) op die karkasse van ‘n vers en haar kalf afgekom. Die diere is vermoedelik Dinsdag of Maandag (10 Oktober 2011) doodgemaak.
Die twee diere is naby Pretoriuskop gevind waar beide in die kop geskiet is. Slegs die voorste horing van die vers is verwyder, die res van die horings was almal steeds in plek. Die stropers word steeds gesoek.
12 Oktober 2011