
Wildboere in Limpopo is een na die ander besig om hul renosters te verkoop en van hul plase te laat verwyder. Hulle sien nie meer kans om alleen en op eie koste die stryd teen stropers te voer nie.
"Jy weet nie wat alleen is totdat 'n renoster op jou grond geskiet word nie," sê 'n boer van Thabazimbi.
Hierdie wildboer, wat anoniem wil bly, sê nadat die eerste renoster op sy plaas geskiet is, het hy alles in sy vermoë gedoen om die polisie en die Department van Omgewingsake van hulp te wees in hul ondersoeke. Maar, hy het in 'n muur van moedswillige onbeholpenheid vasgeloop. "Niemand wil jou help as jy teen renosterstropery wil veg nie," sê hy. "Nou is dit verby. Dis te duur en te gevaarlik om hulle op te pas."
Hy het vandeesweek ál sy renosters van die plaas af laat verwyder nadat 'n bul skaars 600m van die plaashuis af geskiet is. "Wanneer kom een van ons of ons werkers in die pad en word ook geskiet?"
Nadat daar nóg twee renosterbulle op sy plaas buite Mokopane in die Sterkrivier gebied geskiet is, sê 'n wildboer van Mokopane dat hy ook nou klaar is met renosters. Hy gaan sy oorblywende diere verkoop.
Dinsdag is ál die renosters van Chattaronga Safaris in die Alldays-omgewing opgelaai en elders hervestig. Chattaronga behoort aan mnr. Johan Kruger wat vier jaar lank al 'n hofstryd voer om die moratorium op die handel in renosterhorings opgehef te kry.
"Dit alles kom tot niks," sê sy seun, mnr. Phillip Kruger. "Ons was groot renosterboere en het vir baie lank baie hard probeer om hierdie diere op te pas, maar sonder die ondersteuning van die staat is dit onmoontlik," sê hy.
Kruger sê die probleem is dat die huidige wetgewing boere verbied om renosters te laat jag en of om die horings te verkoop. Dit is dus nét in die onwettige handel waar hierdie diere waarde het.
Kruger sê voor die moratorium op die handel in renosterhoring ingestel is, is tussen sewe en agt renosters per jaar geskiet. Die eerste jaar ná die moratorium is net meer as 300 renosters geskiet en die jaar daarna 400. Die afgelope twee jaar is daar elke jaar meer as 1 000 renosters in Suid-Afrika gestroop.
Volgens inligting wat die polisie deur informante gekry het verhandel renosterhoring tans teen R580 000 per kilogram. Stropers betaal tot soveel as R50 000 vir inligting oor plase waar renosters aangehou word.