
Die twee witrenosters wie se horings onlangs tydens ‘n wrede panga-aanval gestroop is, veg steeds dapper vir hul lewens.
Indien die twee renosters van Fairy Glen-wildreservaat naby Worcester oorleef, sal dit die eerste keer in Suid-Afrika wees dat renosters ‘n aanval deur stropers oorleef.
Die koei, Lady, is Sondag, 18 Desember deur werkers in die oop veld gevind. Ná ‘n lang soektog is die bul, Higgans, in ‘n sloot sowat 200 m van Lady af, gevind. Lady is met twee veerpyltjies geskiet en Higgans is deur vier pyltjies getref. Die stropers het die verdowingsmiddel M99, wat slegs deur veeartse verskaf mag word, gebruik.
Albei se horings is met pangas uitgekap. Droë bloed was gister nog sigbaar op die plek waar Higgans se horings uitgeslag is en ‘n onaangename reuk het in die lug gehang. “Die trane loop maar. Hulle is soos ons kinders,” het mnr. Deon Pothas, veldgids by Fairy Glen, oor die voorval gesê.
Bul is nou blind, koei dragtig
Die renosters se oë was oop terwyl hulle onder verdowing was en het gevolglik uitgedroog. Higgans is blind, maar Pothas hoop dit is net tydelik. Lady is vermoedelik dragtig, en daar word gevrees dat sy die kalf kan aborteer.
Die twee, wat altyd bymekaar geloop het, het na die aanval geskei geraak. Higgans, wie se gesig lelik geskend en sy lugweë beskadig is, het gister naby ‘n dam gelê terwyl Lady in die veld gedwaal het – duidelik op soek na haar maat.
“Mense, dit is ‘n lewende wonder wat daar loop. Dit is nog nooit gedoen nie, en as ons hulle deurtrek sal dit die eerste twee wees wat oorleef,” het mnr. Denis Pothas, veldgids by Fairy Glen, gesê terwyl Lady voor die voertuig verbyloop.
Hy glo hul vinnige optrede en die hulp van “die regte mense” het tot hul oorlewing bygedra. Die teenmiddel M55 kon nie opgespoor word nie, maar ‘n menslike teenmiddel is kort na die aanval by die plaaslike Medi-Clinic verkry.
Kry goeie voer
Die renosters word tans lusern en molasse gevoer en hul wonde word gereeld ontsmet, maar veel meer kan daar nie op die oomblik vir hulle gedoen word nie.
Meer as 430 renosters is vanjaar deur stropers uitgewis. Die horings word hoofsaaklik in Asië verkoop, en pryse wissel tussen $60 000 en $100 000 per kg. Higgans se horing het na raming 5 kg geweeg, en Lady s’n ongeveer 3 kg.
“Hulle (die horings) was móói. Higgans het ‘n hóring aan hom gehad, ou maat,” vertel Pothas. Die saak word tans deur die Valke ondersoek. Pothas wou nie veel oor die ondersoek verklap nie, maar meen hulle veg nie vir ‘n verlore saak nie.
Volgens hom moes die stropers die renosters en werknemers baie fyn dopgehou het voor hulle toegeslaan het. “Ons dink dit is ‘n sindikaat,” sê hy.
Lady het op die pyltjies gaan lê, en die stropers kon dit dus nie uittrek nie. Dit vorm nou deel van die ondersoek.
22 Desember 2011