Hoewel ekonome verstaan hoekom rentekoerse onveranderd gelaat is, meen hulle dit kon - veral tot voordeel van boere - met nog 0,5% gesny geword het.
Me. Gill Marcus, president van die Reserwebank, het Donderdag (20 Januarie), aangekondig dat rentekoerse vir eers onveranderd gaan bly. Die repokoers is tans 5,5%, terwyl die prima-terugkoopkoers 9% is.
Kapitale voordeel
Laer rentekoerse, meen mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa AgriBesigheid, sou wel tot voordeel van boere se kapitale belegging gewees het. “Ook as mens die sterker rand in ag neem sou ‘n laer rentekoers gehelp het met die pryse wat boere tans vir kommoditeite kry.”
Mnr. Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Santam Landbou, sê hy reken ook dat ‘n laer rentekoers tot voordeel van veral wyn- en vrugteboere sou gewees het, aangesien die pryse wat dié produkte tans op internasionale markte verdien, laag is.
Internasionale prentjie
Janovsky sê as die vlakke van internasionale rentekoerse tans in ag geneem word, kan hy wel verstaan hoekom geen verlaging oorweeg is nie. “Met inflasiekoersvlakke en wisselkoersbewegings verstaan `n mens waar die besluit vandaan kom,” merk Doyer op.
Volgens Janovsky was die besluit die regte een as die huidige skuldskikkings in Europa in ag geneem word, veral weens die invloed wat dít op die vloei van fondse na Suid-Afrika kan hê. “Dinge is maar tans op ‘n mespunt, want `n mens weet nie of nog skikkings kom – wat ‘n invloed op die rand en internasionale rentekoerse kan hê nie.”
Na verwagting sal rentekoerse in Suid-Afrika vir die res van die jaar rondom huidige vlakke beweeg.
24 Januarie 2011