Rentekoerse is op ‘n jarelange laagtepunt na ‘n verdere 50 basispunt verlagingsbesluit deur die Monetêre Beleidskomitee.
Me. Gill Marcus, president van die Reserwebank, het Donderdag (18 November) dié verlaging aangekondig. Die repokoers sal 5,5% wees, terwyl die prima-terugkoopkoers op 9% te staan kom.
Volgens Marcus het die vooruitsigte vir inflasie sedert die vorige komiteevergadering verbeter en die risikos verbonde aan inflasie blyk tans gebalanseer te wees.
Inflasie-vooruitsigte
Marcus sê na verwagting sal die inflasiegemiddeld vir die vierde kwartaal van die jaar 4,3% wees, terwyl dit 3,5% vir die derde kwartaal was. Volgens voorspellings sal die inflasiekoers ‘n gemiddeld van 4,3% in 2011 handhaaf, waarna die gemiddeld na 4,8% in 2012 sal styg.
Teen die agtergrond van dié verwagtinge en die herstel in die plaaslike ekonomie, het die komitee besluit om rentekoerse verder te verlaag om verbruikersbesteding te stimuleer.
Intussen sê mnr. Ernst Janovsky, hoof van AbsaAgribesigheid, dié daling hou voordele in, aangesien dit kapitale koste laat daal en die wisselkoers ook kan verswak. “Dit skep ook ‘n gunstige prentjie in terme van enigiemand wat goedere wil uitvoer en in die landbou wil belê.”
“Vir die landbou is dit goeie nuus. As jy byvoorbeeld kyk hoe sterk die rand is, kan jy nou ‘n trekker relatief goedkoper koop met dié rentekoers,” verduidelik Janovsky.
18 November 2010