
Luidens 'n verklaring het die Reserwebank vanmiddag gesê dat die verswakking van die rand, voortslepende beurtkrag, skerp stygings in kospryse, die inflasiekoers en hoër as verwagte salarisverhogings hom genoop het om rentekoerse wéér te verhoog. Rentekoerse is in Maart vanjaar ook met 50 basispunte verhoog.
Die repokoers is tans 8,25% en die prima uitleenkoers is 11,75%. Die vorige hoogtepunt vir rentekoerse is in Maart 2016 bereik, toe die repokoers 7% en die prima uitleenkoers 10,50% was.
Die Reserwebank se verwagtinge in terme van die inflasiekoers vir 2023 is na 6,2% verhoog. In Maart is voorsien dat dit 6% sou wees. Verder verwag die bank dat kerninflasie, wat kos- en brandstofpryse sowel as kragtariewe uitsluit, vanjaar nog skerp kan styg. Dié inflasie het in April 'n koers van 5,3% behaal.
Verder sal voortslepende beurtkrag inflasie vanjaar verder opjaag omdat veral diesel aangedrewe kragopwekkers gebruik word om baie besighede soos winkels, bakkerye, slaghuise en ander produksie intensiewe ondernemings aan die gang te hou. Bayer SA het verlede week tydens die Nampo-oesdag gesê dat beurtkrag selfs die produksie en koste van graansaad beïnvloed, wat op die ouend weer die insetkoste vir die verbouing van grane verhoog.
Die Reserwebank verwag dat die inflasiekoers eers in die derde kwartaal die 6%-vlak gaan behaal.
Intussen het die rand-dollar wisselkoers vanmiddag verder verswak ná die aankondiging dat rentekoerse verhoog is. Teen 16h00 het die rand die vlak van R19,68 teenoor die dollar bereik. Die vorige swakste vlak was toe dit onlangs na R19,52/$ verswak het weens die kwessie rondom Suid-Afrika se beweerde betrokkenheid wat betref wapens en Rusland se inval van Oekraïne.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.