
Dít, tesame met kommer oor ’n moontlike El Niño voor die deur, maak boere nou versigtig om nuwe finansiële verpligtinge aan te gaan, sê Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agri-Business.
“Vir boere beteken stygende koste om skuld terug te betaal dat hul winsmarges verder verklein en uitbreidingsplanne verlangsaam. Só het ons byvoorbeeld gesien dat die verkope van landbouwerktuie in 2023 stadiger plaasvind omdat boere versigtig is om ouer toerusting te vervang of nuwes by te koop.”
Sommige ontleders is egter versigtig-optimisties dat die verhoging van die repokoers tot 8,25% en die prima uitleenkoers tot 11,75% die laaste van die huidige siklus kan wees. Maar dan moet almal in die ekonomie saamwerk om dit reg te kry.
Dit beteken prysverhogings van niks meer as 4,5% nie en laer loonverhogings, het Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, gister met die bekendmaking van die jongste rentekoersverhoging van 50 basispunte gevra. Hy het weer beklemtoon dat rentekoersverhogings, hoewel dit pyn oor die kort termyn veroorsaak, juis ingestel word om inflasie hok te slaan en langtermynpyn vir veral arm mense af te weer.
Baie sal afhang van die rigting waarin die rand gaan beweeg en hoe die hele inflasieprentjie oor die volgende paar maande sal lyk. “Hoewel inflasie nou tekens van verlaging toon, huiwer dit steeds bokant die Reserwebank se teiken van 3-6%, met voedselprysinflasie wat steeds dubbelsyfers behaal,” sê Casey Delport, ontleder van Anchor Capital.
Rand se swakte
Twee faktore wat tot die Reserwebank se besluit bygedra het, is die huidige swakte van die rand teen die Amerikaans dollar en die huidige vlaag rentekoersstygings elders in die wêreld.
Die markte sou eintlik ’n groter rentekoerverhoging wou sien, sê Andre Cilliers, ontleder by TreasuryOne. Dit is waarom die rand ook so skerp verswak het ná Kganyago se aankondiging. “Die markte is ’n bietjie ongunstig gegewe die situasie in Suid-Afrika rakende beurtkrag, en al die ander probleme waarvan ons almal reeds bewus is. Die koste om sake in Suid-Afrika te doen, raak net ál groter en daarby sit jy met die moontlikheid van verhoogde inflasie,” verduidelik Cilliers.
Hy sê internasionale beleggers het reeds die afgelope drie maande groot bedrae uit die land onttrek deur ontslae te raak van hul staatseffekte. “Hulle wil ’n groter risikopremie betaal word om dit regtig die moeite werd te maak om in die land te belê. Omdat hulle nie daardie verhoogde risikopremie (in die vorm van selfs hoër rentekoerse) kry nie, verswak die rand.”
Maar Cilliers glo verdere rentekoersverhogings sal begin afplat, in ooreenstemming met die rentekoersbesluite in Amerika. Sy verwagting is dat Amerikaanse inflasie steeds verder gaan daal. “Ons sal dit in Junie sien wanneer April se syfers bekend gemaak word. Dan, dink ek, is ons aan die einde van die siklus van rentekoersverhogings in Amerika.” Dan behoort hierdie ook Suid-Afrika se laaste verhoging te wees. “As die markte net begin verwag dat die volgende beweging van die koers in Amerika nie opwaarts nie, maar afwaarts sal wees nie, sal dit steun bied, ook aan die rand.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.