
Dit word met die samewerking van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) en The Dairy Mail aangebied.
Mnr. Andrew Morphew van Colbourne Farm naby Howick in KwaZulu-Natal se boerdery is deur die beoordelaars as “van topgehalte en uiters aggressief in die toepassing van die korrekte metodes” beskryf, met ’n gretigheid om te verbeter waar moontlik.
Die beoordelaarspaneel, bestaande uit dr. Heinz Meissner van Melk SA, mnr. Jompie Burger van die Suiwelstandaarde-agentskap, en mee. Sue Viljoen van die WWF en Barbara Bieldt van die MPO, het Morphew en sy bestuurspan, mnre. Jean Adam en Jorgen Wilkström, as formidabel beskryf.
“Hulle is hoogs bekwaam en boer met die nodige selfvertroue om rasionele besluite op hul terrein te kan neem.”
Die MPO sê in ’n verklaring die jaarlikse eerbewys gee erkenning aan melkboere wat volhoubare boerderypraktyke en bewaring toepas, hoë standaarde van dieresorg en ’n doeltreffende bestuursprogram vir kuddegesondheid handhaaf, ’n hoë lewensgehalte vir al die mense op die plaas verseker en waarde toevoeg tot die plaaslike gemeenskap, ’n gesonde, veilige produk van hoë gehalte produseer, en winsgewendheid op ’n deurlopende grondslag verbeter deur versterking van die onderneming se veerkragtigheid of kapasiteit om wisselvalligheid en ongunstige gebeure te hanteer en doeltreffendheid op die plaas te verhoog.
Bemagtig met kennis
Volgens die beoordelaars het Morphew het homself bemagtig met kennis oor talle volhoubare suiwelonderwerpe. Hy het indrukwekkende vlakke van insig en begrip oor praktyke om grondgesondheid en grondkoolstof op te bou sodat hy nie op chemiese bemesting of produksiemiddele hoef staat te maak nie.
“Morphew se kuddegesondheidsbestuur is uitstaande, met ’n uitsonderlik gemiddelde somatiese seltelling. Die noukeurige rekords en algehele vlak van sindelikheid en higiëne stel ’n baie hoë standaard.”
Morphew het R40 000 van Nedbank ontvang om rentmeesterskapdoelwitte op sy plaas na te volg.
Naaswenners
Mnr. Simon en me. Stacey Miller van Sherwood Farm by Moorivier, KwaZulu-Natal, was tweede en mnr. Jake Crowther van Oakhurst Farm by Hoekwil in die Wes-Kaap derde. Hulle ontvang onderskeidelik R30 000 en R10 000 om aan rentmeesterskapdoelwitte te bestee.
Die beoordelaars beskryf die Millers as toegewyde jong boere. Stacey spits haar toe op kuddegesondheidsbestuur en Simon op gesonde grond en optimale weidingsbestuur. Hulle spits hulle ook toe op die herstel en instandhouding van vleilande, die skep van natuurlike bewegingskorridors vir wild en die voorsiening van voer aan wilde voëls.
Crowther word beskryf as ’n boer wat voorkomend optree, oop is vir voorstelle en insette en werklik sy beste wil doen om die rentmeesterskap van sy hulpbronne te verbeter en so volhoubaar moontlik te boer.
Sy boerdery word goed bestuur en hy benut alle geleenthede om sy boerderybedrywighede te diversifiseer.
“Die insluiting van agritoerisme op sy plaas deur die herbenutting van vervalle plaasgeboue om as vakansieverblyf te dien, is nie net innoverend nie, maar skep ook werkgeleenthede en ondersteun die gemeenskap,” luidens die verklaring.