
Sy seun Monte sê hy was nege dae in die hospitaal en het moontlik ’n beroerte gehad.
Hulde het ingestroom vir die leierboer van Theunissen in die Vrystaat wat langer as 2 meter in sy sokkies gestaan het en wat onthou sal word vir die wyse waarop hy met ’n welluidende stem sy saak baie berekenend in ’n raadsvergadering kon stel. Pienaar het ’n regsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal, maar daarna gaan boer.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van die familieboerderynetwerk (Saai), onthou hom as ’n merkwaardige man. “Ek onthou hoe hy altyd op Agri SA se vergaderings opgestaan het met ’n klomp media-knipsels waarmee hy sy standpunte kon staaf en verskillende kwessies met mekaar in verband kon bring.”
De Jager sê die laaste wat hy hom gesien het, was met die stigting van Saai. “Hy het al die vergaderings in die aanloop tot Saai bygewoon en sy deel bygedra. Hy was ook steeds betrokke as voorsitter en een van die pioniers van die Oos- en Suider-Afrikaanse suiwelvereniging (Esada) wat hom beywer vir samewerking tussen suiwelorganisasies in Afrika.”
Mnr. Fanie Ferreira, waarnemende uitvoerende hoof van die MPO, wat Pienaar opgevolg het as Vrystaatse voorsitter van die MPO, sê Pienaar was baie toegewyd en het eintlik nooit opgehou met dienslewering nie. “ ’n Mens het hom nog gereeld gehoor in landbouverwante onderhoude op radio en daar was nooit twyfel dat dit hy is wat praat nie. Hy was ’n groot leier.”
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, uitvoerende hoof van die organisasie vir melkprosesseerders (Sampro), beskryf Pienaar as ’n unieke en kleurryke karakter. “Sy groot bydrae was dat hy deurlopend die belangrikheid van samewerking tussen Sampro, die MPO en die Suiwelstandaardagentskap beklemtoon het. Daar was by hom deeglike begrip dat daar sake van kollektiewe belang is wat gesamentlik hanteer moes word tussen al die belanghebbendes in die suiwelbedryf.”
Pienaar het sedert 2011 as raadslid van die VF Plus in die munisipale raad Masilonyana gedien. Hy was ook lid van die party se federale raad, voorsitter van die federale finansieskomitee en lid van die federale dagbestuur.
Mnr. Jan van Niekerk, die VF Plus se leier in die Vrystaat, beskryf Pienaar as ’n eerbare leier wat goeie verhoudings met sy kollegas en politieke opponente opgebou het. “Hy was ’n sagmoedige reus en sy karakter en leierskap sal gemis word. Hy was ’n gemeenskapsman en het gelewe om vir die mense te werk en diensbaar te wees. Hy was hulpvaardig en het altyd opgedaag met ’n gees van omgee. Hy het altyd in belang van die gemeenskap opgetree en was tot onlangs toe nog hard aan die werk om munisipale diensleweringsprobleme te probeer oplos. Sy harde werk was deurslaggewend om ’n middeweg-ooreenkoms oor erfbelasting te bewerkstellig tussen die munisipaliteit en boere van die omgewing.”
Pienaar laat sy vrou, Ina, sy seuns, Monte en Conrad, twee dogters, Anje Carstens en Madeleine Pienaar, en agt kleinkinders agter.