
Mnr. Johan Strydom (63) was ’n dapper, onbaatsugtige, hardwerkende en voortreflike leier wat ’n intensie passie vir sy medeboere en meer spesifiek vir kleiner boere gehad het.
Dit is maar een van ’n paar beskrywings van Strydom, ’n reus in die Suid-Afrikaanse melkbedryf, wat onlangs weens die covid-19-virus oorlede is.
Hy is in Lichtenburg gebore en het daar grootgeword. Nadat hy in 1981 die graad BCom(Rek) aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom verwerf het, het hy met ’n klein melkery begin wat later tot ’n megaboerdery uitgebrei het. Hy was ’n saai-, melk-, vee- en wildboer, en het ook ’n voerkraal tot stand gebring. Hy het ’n Simmentaler-stoetery bedryf en kommersieel met skape geboer.
Hy het een van die grootste oorblywende melkerye in Noordwes besit met van die nuutste tegnologie in die melkstal.
Strydom is op 14 September 2021 ná ’n ses weke lange stryd teen covid-19 in die hoësorgeenheid in die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp oorlede.
Hy en sy vrou, Elsa, was met sy heengaan 38 jaar getroud en het twee dogters en drie kleinkinders. Hul plaas Wolvenfontein is net buite Lichtenburg.
Elsa sê wat haar die meeste van hom sal bybly, is dat hy ’n onverskrokke, dapper, dinamies, baie intelligent, hardwerkend, ’n strateeg en ’n voortreflike leier vol inisiatief was. “Hy was ’n familieman, met ’n groot hart vol liefde, omgee en het ’n hart vir mense gehad. Elkeen wat swaar kry, is gehelp en bygestaan. Hy het dit as ’n uitdaging beskou om vir elke individu in die gemeenskap iets te kan beteken en het altyd gereed gestaan om te kan help.” Sy eindelose liefde vir sy bestuurders en werkers, asook die wyse waarop hy hulle hanteer het, getuig van die soort mens wat hy was.
Steunpilaar
Strydom was direkteur van verskeie besighede, die afgelope drie jaar ook van Dairy Farmers of South Africa (DFSA). Hy was ongeveer tien jaar ’n direkteur van die Melkprodusente-organisasie (MPO) in Noordwes en die afgelope vier jaar was hy lid van die ouditkomitee vir Melk SA. Hy het ook gedien as voorsitter van verskeie trusts van ongeveer ses deeltitelskemas, was die plaaslike verteenwoordiger van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en ook voorsitter van die Lichtenburg-Oos-boerevereniging van Agri Noordwes.
Mnr. Philip Swart, bestuurder van lededienste by die MPO, sê Strydom het ’n intense passie vir sy medeboere en meer spesifiek vir kleiner boere gehad. Hy was ’n kampvegter daarvoor dat hulle die bes moontlike prys vir hul produk moes ontvang. Hy was ook direk betrokke by die skolemelk-projek in ’n poging om die bemarking van die produk te bevorder en ook om toe te sien dat kinders op alle vlakke daagliks goeie voeding ontvang.
Onder sy leiding is die Lichtenburg Boeremark tot stand gebring om te verseker dat sy medeprodusente grondstowwe teen die bes moontlike prys kon aankoop.
“Hy sal deur sy medeprodusente, die MPO en vele ander organisasies gemis word en ons betreur sy heengaan. Ons bede is dat sy gesin en familie deur die genade van ons hemelse Vader vertroosting en berusting sal ontvang,” sê Swart.
Stryder vir melk
Mnr. Drikus Lubbe, uitvoerende hoof van Dairy Group, beskryf hom as ’n boer in hart en been. Strydom het vir meer as 30 jaar melk gelewer aan NCD, Clover, DFSA en ook die afgelope paar jaar aan Dairy Group.
Hy was voorsitter van DFSA se direksie van Oktober 2018 tot met die vorming van Dairy Group einde 2019. “Ons ken mekaar al van my dae as hoof van Clover se verskaffingsketting. Hy was toe voorsitter van die MPO in Noordwes en die Clover-produsentevereniging op die Hoëveld. Hy was seker die grootste voorstander vir die voortbestaan van die melkbedryf op die Hoëveld toe onverwerkte melk ál meer na kusgebiede geskuif het, nog meer so vir melk uit Noordwes. Hy het seker gemaak ek behou Noordwes-boere en het dag en nag vir hulle baklei.”
Lubbe sê dit is duidelik uit al die rade en advieskomitees waarin Strydom gedien het dat hy ’n baie sterk leier was. Hy het sterk menings gehad en was ’n leidende figuur in die vorming van DFSA uit Clover en dan Dairy Group, veral met die samesmelting met Coega.
Sy onbaatsugtige bydrae tot alle gemeenskappe waarvan hy deel was en wat hy ook gelei het, gaan verseker gemis word.
’n Gedenkdiens vir Strydom word op 23 September 2021 om 10:00 op die plaas Wolvenfontein gehou.