
Mnr. Michal Groenewald, VF Plus-LP, het gedurende dié vraag-en-antwoordsessie aan Gordhan gesê gewone Suid-Afrikaanse kragverbruikers moet pa staan vir die foute van die ANC en ook die onbevoegdheid en bedrog by Eskom subsidieer.
“Openbare ondernemings word gewoonlik ingespan om belastingverligting vir ’n land te bring. Weens ondoeltreffende bestuur slaag Eskom nie daarin om ekonomies lewensvatbaar te wees nie, ten spyte van reddingsaksie wat belastingbetalers miljarde rande kos.”
Groenewald het aan Gordhan gevra of Eskom se nuwe prysstruktuur sal verseker dat daar nie verdere beurtkrag of reddingspakkette vir dié kragverskaffer sal wees nie.
Gordhan het geantwoord dat daar eendag nie meer beurtkrag sal wees nie namate meer krag op die nasionale netwerk beskikbaar word. Volgens hom gaan dit egter nie oornag gebeur nie.
Gordhan het in sy antwoord uitgelig dat die regering in 1983, toe beurtkrag ook voorgekom het, besluit het om sewe nuwe kragsentrales, onder meer Majuba en Medupi, te bou. Die nuwe kragsentrales se bouwerk is in die 1990s voltooi, maar hulle gee nog tot vandag toe probleme. “Alles is dus nie die ANC se skuld nie,” het Gordhan gesê.
“Dit wat nou ervaar is, is weens die ampsmisdrywe wat gedurende die tydperk van staatskaping plaasgevind het. Namate ons van dié tydperk herstel en die produktiwiteit van die kragsentrales verbeter, sal meer krag op die netwerk beskikbaar wees.”
Gordhan het gesê dat Suid-Afrikaners beurtkrag waarskynlik vir die volgende nege tot twaalf maande sal moet verduur. “Ons sal probeer om, waar moontlik, dit tot vlak 2-beurtkrag te beperk.”
Volgens Gordhan sal Eskom se bestuurders by kragsentrales meer moet doen om te verseker dat hul kragsentrales ordentlik onderhou word, doeltreffend bestuur word en ongerief geminimaliseer word.
Gordhan was baie eerlik daaroor dat daar nie ’n kitsoplossing vir Suid-Afrika se kragprobleme bestaan nie.
Regering ‘ongevoelig’
Volgens Groenewald wek Gordhan se antwoord die indruk dat ANC ongevoelig is teenoor belastingbetalers en geen begrip het vir die las waaronder die algemene verbruiker gebuk gaan nie. Hy het gesê dit is ewe onaanvaarbaar dat die minister die eindelose reddingsboeie van miljarde rande oor baie jare nou slegs voor die deur van staatskaping wil lê.
“Dit is veel eerder ’n kombinasie van verskeie faktore soos regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kaderontplooiing en die gevolglike onbevoegdheid en korrupsie wat daaruit voortgespruit het. Staatskaping vorm slegs deel daarvan.
“Nou word van gewone Suid-Afrikaners verwag om net aan te hou gee en gee om vir hierdie ANC-brousel te betaal.”
Hy is ook van mening dat Suid-Afrika se kragprobleme oor ’n jaar waarskynlik nie iets van die verlede sal wees nie. “As die ANC by iets betrokke is, is dit moeilik om te sien dat dit nie verder agteruit kan gaan nie. Die enigste blywende oplossing is om die regering te vervang, en 2024 sal daardie geleentheid bied. Suid-Afrika verdien beter as die ANC.”
Verskeie georganiseerde landbou-instellings het die afgelope weke deelgeneem aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) se openbare sessies oor die reusetariefstyging waarom Eskom aansoek gedoen het.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.