Die landbourevolusie is reeds aan die gebeur en dit word bevestig deur Statistieke SA se syfers oor die duisende werke wat in die landbousektor geskep is, meen me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Hoewel ander bedrywe soos die konstruksie- en die vervaardigingsbedryf al twee tot meer as 70 000 werke in die eerste kwartaal van vanjaar verloor het, het werkskepping in die landbousektor toegeneem.
In die landbousektor is 26000 volhoubare werke in die derde kwartaal van 2011 geskep, 6 000 in die vierde kwartaal en in die eerste kwartaal van 2012 is ‘n verdere 26 000 werke geskep.
Joemat-Pettersson het dit duidelik aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gestel dat hierdie permanente werke nie deur wit kommersiële boere geskep is nie, maar deur swart kleinskaalse boere.
Sigbare vordering?
Die portefeuljekomitee is bekend daarvoor dat hy gereeld die Minister en haar departement oor die kole haal oor sigbare vordering in die departement.
“Iewers strook die inligting wat ons het en wat julle het, nie met mekaar nie,” het Joemat-Pettersson gesê. “Want as Statistieke SA, en nie die landbou nie, sê dat daar ‘n jaar op jaar groei van 53 000 werke in die landbousektor is, dan gebeur die landbourevolusie reeds.
“Die analise van Statistieke SA wys dat self onder apartheid, met al die beleggings wat toe in die landbou gemaak is, daar nie positiewe groei in die sektor was nie. Van 1970 tot 1994 was daar absoluut geen groei in die landbou in die land nie.”
Volgens syfers van Statistiek SA is dit die eerste keer dat die sektor sedert die 1970’s ‘n jaar op jaar groei van 8,8% toon.
Sy het uitgewys dat haar departement vir die volgende twee jaar sal ingryp in Kwazulu-Natal en die Oos-Kaap om die sektor hier te laat gedy.
23 Mei 2102