
Die Rhodes Food-groep se omset het in die boekjaar tot September met 37% tot R4,1 miljard gestyg en sy wins met 71% tot R290 miljoen. Mnr. Bruce Henderson, uitvoerende hoof, sê in 'n verklaring hul sterk verkope was danksy voortgesette goeie organiese groei asook die voordele van strategiese verkrygings die afgelope twee jaar.
Internasionale inkomste het weens die verswakking van die rand 'n hupstoot gekry - omset het met 23% gestyg. Die groep se plaaslike omset, wat vir 73% van die groepsomset sorg, het met 43% gestyg.
Verkope in die afdeling vir vars voedsel het met 27% gestyg, met goeie groei in veral die pastei-afdeling. Verkope in die afdeling vir langlewevoedsel het met 57% gestyg, waar vrugtesap en blikkiesvleis die beste presteerders was. Dié twee kategorieë het ook 'n fris bydrae daartoe gemaak dat verkope in die 12 ander Afrikalande suid van die Sahara waar Rhodes bedrywig is, met 67% gestyg het.
Markaandeel
Rhodes is die markleier in ingemaakte pynappel, tamatiepasta en gebottelde konfyt en sy Bull Brand is die markleier in blikkiesvleis.
Die handelsmerk beklee verder sterk tweede posisies in ingemaakte vrugte, konfyt, groente en tamaties.
Verkrygings
Sedert die groep se notering in 2014 het hy agt ander ondernemings teen gesamentlik R900 miljoen verkry. Verkrygings van die afgelope twee jaar het in die boekjaar tot einde September vir R651 miljoen van die inkomste gesorg.
Henderson sê laasgenoemde verkrygings het Rhodes se toetrede tot nuwe die produkkategorieë van vrugtesap, babakos, gebottelde piekelprodukte asook slaai, gebak en peuselprodukte versnel.
Kort ná die einde van die boekjaar het die groep aangekondig hy gaan Pakco en Ma Baker koop, wat onderskeidelik droë, verpakte voedsel, en pasteie en gebak produseer.
Kapitaalbesteding
Rhodes het R229 miljoen bestee om sy Bull Brand-produksie-aanleg uit te brei, vermoëns by sy vrugtesap- en vrugteproduktefabrieke te vergroot, en vir die begin van bouwerk aan 'n nuwe babakos-aanleg.
In die nuwe boekjaar beoog die groep om vermoëns by sy aanlegte vir vleis, vrugtesap, vrugteprodukte en die inmaak van groente verder op te gradeer en ook om die babakosfabriek klaar te maak.