Riglyne oor hoe geld vir vloedhulp in die Noord-Kaap aan boere toegestaan moet word, vertraag tans die proses, sê Agri Noord-Kaap.
Mnr. Johan van Rensburg, Agri Noord-Kaap se hoof uitvoerende beampte, sê die provinsiale departement van landbou het onlangs tydens ’n vergadering aangedui dat hulle volgende week (26 Maart) met die nasionale departement oor dié riglyne sal vergader.
Een van die grootste probleme is dat die riglyne bepaal dat boere ’n deel van die koste van herstelwerk aan keerwalle en dies meer self moet dra. In die geval van kommersiële boere sal die ramphulp 50% van dit wat op die plaas herstel moet word, wees. Aan opkomende boere sal 80% gegee word, terwyl bestaansboere 90% sal ontvang.
“Ons vra dat die koste met 100% vergoed moet word, anders gaan baie van die skade nie herstel word nie. En dit kan groot probleme veroorsaak,” sê Van Rensburg. Hy sê boere wat toegang gehad het tot finansiering, het reeds van die skade herstel en wag om terugbetaal te word.
Meer geld
Ekstra geld is vir die jaar aan die landbou bewillig om die vloedskade wat verlede jaar in Januarie en Februarie in die provinsie aangerig is, te herstel. Teen die einde van verlede jaar is ’n bedrag van R132 miljoen beskikbaar gestel. Die totale bedrag wat nou beskikbaar is, is R353 miljoen.
Volgens Van Rensburg is hulle bekommerd oor die tydlyn wat aan die besteding van die geld gekoppel word. Hy sê dit sal nie moontlik wees om dié bedrag in een jaar te bestee nie en dat dit eerder op ’n projekbasis gebruik moet word. “Ingenieurs gaan die skade aan elke wal moet bepaal en kyk van waar af gruis en sand aangery kan word – en dit kan lank vat.”
Mnr. Kosie van Zyl, ’n verteenwoordiger vir Agri SA, sê hulle is bekommerd oor die voortbestaan van baie van die boere wat deur die oorstromings geraak is – veral as die proses ten opsigte van die beskikbaarheid van die geld voortsleep.
“Volgens my berekenings kan een uit elke drie van die boere wat geraak is, misluk. Op party van die plase staan die wingerde steeds 2 m onder die sluk.”
Voorstel
Van Rensburg sê hulle steun wél die provinsiale departement se voorstel dat die ramphulpgeld ook aangewend moet word om herstelwerk só te doen dat toekomstige oorstromings se invloed beperk sal wees.
“Hulle wil kyk na hoër keerwalle en brekers vir toekomstige oorstromings, en ons reken dis ’n goeie idee – ons gee ons volle steun daarvoor.” Volgens Van Rensburg sal dié voorstel ook volgende week met die nasionale departement bespreek word.
23 Maart 2012